Christiaan IX | |
---|---|
Koning van Denemarke | |
Christiaan, omstreeks 1900-06.
| |
Periode | 15 November 1863 – 29 Januarie 1906 |
Voorganger | Frederik VII |
Opvolger | Frederik VIII |
Huis | Sleeswyk-Holstein-Sonderburg-Glücksburg |
Vrou | Louise van Hesse-Kassel |
Kinders | Frederik VIII van Denemarke Alexandra, koningin van die Verenigde Koninkryk George, koning van Griekeland Dagmar, keiserin van Rusland Thyra, kroonprinses van Hannover Prins Waldemar van Denemarke |
Vader | Friedrich Wilhelm, Hertog van Sleeswyk-Holstein-Sonderburg-Glücksburg |
Moeder | Prinses Louise Caroline van Hesse-Kassel |
Gebore | 8 April 1818, Gottorp, Sleeswyk |
Oorlede | 29 Januarie 1906, Kopenhagen |
Christiaan IX (8 April 1818 – 29 Januarie 1906) was van 16 November 1863 tot met sy dood op 29 Januarie 1906 koning van Denemarke. Van 1863 tot 1864 was hy terselfdertyd die Hertog van Sleeswyk, Holstein en Lauenburg.
Hy was 'n jonger seun van Friedrich Wilhelm, die Hertog van Sleeswyk-Holstein-Sonderburg-Glücksburg, en het grootgeword in die hertogdom Sleeswyk as 'n prins van Sleeswyk-Holstein-Sonderburg-Glücksburg, 'n junior tak van die Huis van Oldenburg, wat sedert 1448 oor Denemarke regeer het. Hoewel hy nabye familiebande met die Deense koningshuis gehad het, was hy oorspronklik nie in die onmiddellike opvolgingslinie van die Deense troon nie.
Ná die vroeë dood van sy vader in 1831 het Christiaan in Denemarke grootgeword en is hy opgevoed aan die Militêre Akademie Kopenhagen. Nadat hy nie daarin kon slaag om die jawoord van koningin Victoria van die Verenigde Koninkryk te kry nie, is hy in 1842 getroud met sy dubbele kleinniggie, prinses Louise van Hesse-Kassel.
In 1852 is Christiaan gekies as vermoedelike erfgenaam van die Deense troon in die lig van die verwagte uitsterwing van die senior linie van die Huis van Oldenburg. Ná die dood van koning Frederik VII van Denemarke in 1863 het Christiaan die troon bestyg as die eerste Deense monarg van die Huis van Glücksburg;[1] hy was Frederik se kleinneef en die man van Frederik se niggie, Louise van Hesse-Kassel.
Die begin van sy bewind is gekenmerk deur die Deense nederlaag in die Tweede Sleeswykse Oorlog en die daaropvolgende verlies van die hertogdomme Sleeswyk, Holstein en Lauenburg. Dit het die koning geweldig ongewild gemaak. Die volgende jare van sy bewind is oorheers deur politieke dispute, want Denemarke het pas in 1849 'n konstitusionele monargie geword en die magsbalans tussen die koning en parlement was nog nie gevestig nie. Ten spyte van sy aanvanklike ongewildheid en die baie jare van politieke onmin, waarin die koning in konflik met groot dele van die bevolking was, het sy gewildheid aan die einde van sy bewind toegeneem en het hy 'n nasionale ikoon geword danksy die lengte van sy bewind en die hoë standaarde van persoonlike moraliteit waarmee hy geïdentifiseer is.
Christiaan se ses kinders by Louise het in ander Europese koninklike families ingetrou en hy het bekend geword as die "skoonvader van Europa". Onder sy afstammelinge tel koning Frederik X, koning Filip van België, koning Harald V van Noorweë, groothertog Henri van Luxemburg, koning Charles III van die Verenigde Koninkryk en koning Felipe VI van Spanje.[2]