Christopher Isherwood | |
---|---|
Christopher Isherwood in 1973 | |
Gebore | Christopher William Bradshaw Isherwood 26 Augustus 1904 Wyberslegh Hall, High Lane, Cheshire, VK |
Sterf | 4 Januarie 1986 (op 81) Santa Monica, Kalifornië, Verenigde State |
Burgerskap | Brits (tot 1946) Amerikaans (vanaf 1946) |
Alma mater | Corpus Christi College, Cambridge King's College Londen |
Beroep | Romansier |
Lewensmaat | Heinz Neddermeyer (1932–1937) Don Bachardy (1953–1986) |
Handtekening | |
Christopher Isherwood (ook bekend as Christopher William Bradshaw-Isherwood; gebore op 26 Augustus 1904, High Lane, Cheshire, Engeland, sterf op 4 Januarie 1986 Santa Monica, Kalifornië, VSA was 'n Anglo-Amerikaanse romansier wat veral bekend is vir sy romans oor die Berlyn van die vroeë 1930's.
Nadat hy as ‘n private tutor gewerk het, het Isherwood 'n mate van erkenning verkry met sy eerste twee romans, All the Conspirators (1928) en The Memorial (1932). Gedurende die 1930's het hy saam met sy vriend W.H. Auden op drie dramas gewerk, waaronder The Ascent of F6 (1936). Maar dit was eers in 1929 dat hy die tema ontdek het wat hom algemeen bekend sou maak. Isherwood het tussen 1929 en 1933 in die Berlynse stadsdeel Schöneberg gewoon, wat destyds die sosiale middelpunt van die Duitse hoofstad se gay- en lesbiese toneel was, en sodoende die objektiewe oogpunt van 'n buitestaander verkry betreffende die verval van die Republiek van Weimar as eerste moderne Duitse demokrasie, en die opkoms van die NSDAP van Hitler.
Sy romans, Mr. Norris Changes Trains (1935; The Last of Mr. Norris) en Goodbye to Berlin (1939), wat later saam gepubliseer is as Berlin Stories, het sy reputasie as 'n belangrike skrywer gevestig en as inspirasie gedien vir die toneelstuk I Am a Camera, (1951; rolprent, 1955) sowel as die musiekblyspel Cabaret (1966; rolprent, 1972). Hierdie boeke is afgesonderde maar humoristiese studies van twyfelagtige karakters wat losbandige lewens lei as inkommers in die Duitse hoofstad. In 1938 het Isherwood Lions and Shadows gepubliseer, 'n amusante en sensitiewe relaas van sy vroeë lewe en vriendskappe terwyl hy 'n student was aan die Universiteit van Cambridge.
Die koms van die Tweede Wêreldoorlog het nie slegs 'n verandering meegebring in Isherwood se skryfwerk nie, maar ook 'n permanente verandering van woonplek. Hy het in 1939 na die VSA geïmmigreer en hom in Suid-Kalifornië gevestig waar hy onderrig gegee het en draaiboeke vir Hollywood-rolprente geskryf het. In 1946 het hy Amerikaanse burgerskap aanvaar. Dit was ook in 1939 dat Isherwood hom na pasifisme en die selfontkenning van die Indiese Vedanta gewend het en 'n volgeling van Swami Prabhavananda geword het. In die daaropvolgende dekades sou Isherwood verskeie werke oor Vedanta en vertalings saam met Prabhavananda maak, insluitende ‘n vertaling van die Bhagavadgita.
Isherwood se na-oorlogse romans het voortgegaan om sy persoonlike styl van fiksionele-outobiografieë te demonstreer. Sy A Single Man uit 1964 (wat in 2009 vir film verwerk is onder 'n gelyknamige titel), 'n kort maar hoogaangeskrewe roman, handel oor 'n enkele dag in die lewe van 'n eensame middeljarige homoseksuele man. Sy erkende outobiografiese werke sluit self-verklaarde memoirs van sy ouers, Kathleen and Frank (1971), 'n retrospektiewe biografie van homself in die 1930's, Christopher and His Kind (1977), en 'n studie van sy verhouding met Prabhavananda en Vedanta, My Guru and His Disciple (1980) in. Diaries: Volume One: 1939–1960 (1996) en The Sixties: Diaries: 1960–1969 (2010) is postuum gepubliseer.
Isherwood het vanaf 1953 saam met sy minnaar Don Bachardy ('n skilder) gewoon.[1]