Copacabana

'n Lugfoto van Copacabana, soos gesien vanaf die Suikerbroodberg (Pão de Açúcar)

Copacabana is 'n buurt in die suide van die Brasiliaanse stad Rio de Janeiro. Die buurt is veral bekend is vir sy gesogte, halfmaanvormige sandstrand, waarheen veral jong mense stroom.[1]

Die distrik is tot by die middel van die 18de eeu Sacopenapã genoem, en sy naam is eers na die oprigting van 'n kapel gewysig, wat 'n kopie van die standbeeld "Jonkvrou van Copacabana" in Bolivia gehuisves het. Copacabana is op 6 Julie 1892 by die stad Rio de Janeiro ingelyf.

Die huidige distrik strek van Prinses-Isabellaan tot by Posto Seis (die plaaslike lewensredders se wagtoring nommer ses) naby die vesting van Copacabana (Portugees: Forte de Copacabana) en lê digby ander gewilde woonbuurte soos Ipanema en Leblon. Met sowat 400 000 inwoners en 'n oppervlakte van slegs 5,08 vierkante kilometer is dit een van die mees digbevolkte woonbuurte ter wêreld.

Die strand van Copacabana, wat oor 'n lengte van vier kilometer strek, lok op Nuwejaarsaand miljoene besoekers wat hier die begin van die nuwe jaar, maar veral ook die fees van die Afro-Brasiliaanse seegodin Yemanjá, wat onder meer deur die plaaslike vissers vereer word, kom vier. Mense laat klein houtvlotte met offerandes soos parfuum en blomme te water om die seegodin gunstig te stem, en plaas kerse op die strand. Mees opvallend is die honderde priesteresse, die Filhas-de-Santo ("Dogters van die Heilige") met hulle tipiese wit kleredrag.

  1. HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013, ISBN 978-1-77578-243-8

Developed by StudentB