Dawid

Dawid
Koning van Israel
Koning Dawid, skildery deur Gottlieb Welté
Dinastie Huis van Dawid
Bewind ca. 1010–970 v.C.
Gebore ca. 1040 v.C.
Gesterf ca. 970 v.C.
Jerusalem
Voorganger Saul Isboset
Opvolger Salomo
Gade Michal, Ahinoam, Abigail, Maachah, Haggith, Abital, Eglah, Bathsheba
Kinders Amnon, Chileab, Absalom, Adonijah, Shephatiah, Ithream, Shammua, Shobab, Nathan, Salomo, Ibhar, Elishua, Nepheg, Japhia, Elishama, Eliada, Eliphalet, Tamar
Vader Jesse
Moeder Nitzewet (Talmoed)

Dawid (Hebreeus: דָּוִד, Davīd; moontlike betekenis: "geliefde een"[1]) was die derde koning van Israel en het 40 jaar lank regeer. Hy was die uitstekendste koning van Israel, en was volgens die Bybel 'n regeerder na God se hart. Hy word uitgebeeld as heldhaftig en oordeelkundig in oorlog, 'n versiende en omsigtige regeerder in vredestyd en die grootste digter van sy tyd.[2] Hy het die grondslag vir die Huis van Dawid gevestig wat tot in die Nuwe Testament van die Bybel deurslaggewend gebly het.

Dawid onderskei hom reeds as jong seun toe hy Goliat, die trotse Filistynse teenstander, neervel. Ook sy siterspel bring hom onder koning Saul se aandag, wat hom in sy hofhouding opneem en as militêre aanvoerder aanstel. Dawid se roem maak die koning afgunstig, sodat hy uit die hof moet vlug. By die Grot van Adoelam smee Dawid 400 uitgewekenes in 'n bende saam, wat later tot 600 sou aangroei. Dié bende voer bloedige strooptogte op die volk se vyande uit, terwyl hulle Saul en sy landgenote waar moontlik vermy. Eindelik moet hy Juda tog verlaat, en maak dan 'n bestaan as onderhorige van die Filistynse koning van Gat.[2]

Ná die veldslag by Gilboa waar Jonatan sneuwel en Saul selfmoord pleeg, word Dawid koning oor Juda by Hebron, waar hy sewe en 'n half jaar regeer. Met die dood van Saul se oorlewende seun Isboset word Dawid koning oor die hele Israel. Hy val die outonome vesting Jebus (Jerusalem) binne en vestig sy vorstehuis op die heuweltop Sion, van waar hy 32 jaar regeer. Hy laat ook die verbondsark na die hoofstad bring waar dit op Moriaberg, die ligging van die latere Tempel, onder 'n tent staan. Die Filistyne, Moabiete, Arameërs, Edomiete en Ammoniete word in kort opeenvolging onderwerp, sodat die landstreek van die Egiptiese grens tot aan die Eufraat aan hom onderhorig word. Wanneer Absalom en Adonija opmerk hul vader se kragte kwyn, lei hulle onsuksesvolle opstande in sy laaste regeringsjaar.[2] Dawid is in die koningstad begrawe en opgevolg deur sy seun Salomo.

  1. (en) G. Johannes Botterweck; Helmer Ringgren (1977). Theological Dictionary of the Old Testament. Wm. B. Eerdmans Publishing. p. 158. ISBN 978-0-8028-2327-4.
  2. 2,0 2,1 2,2 Public Domain  "David". The New Student's Reference Work. (1914). Chicago: F. E. Compton and Co. URL besoek op 19 Mei 2022. 

Developed by StudentB