Demokritos | |
'n Portret van Demokritos
| |
Gebore | ca. 460 v.C. Abdera, Thrakië |
---|---|
Oorlede | ca. 370 v.C. |
Nasionaliteit | Antieke Griekeland |
Vakgebied | metafisika, wiskunde, sterrekunde |
Beïnvloed deur | Leukippos, Melissos van Samos |
Invloed op | Epikuur, Pyrrho, Lucretius, Aristoteles, Montaigne, Severino, Baruch Spinoza, George Santayana, Friedrich Nietzsche, Michel Onfray |
Demokritos (Grieks: Δημόκριτος, Dēmókritos; c. 460 – c. 370 v.C.) was 'n invloedryke antieke Griekse geleerde, voor-Sokratiese filosoof, astronoom en reisiger. Hy word hoofsaaklik onthou vir sy formulering van 'n atomiese teorie van die heelal,[1] en staan algemeen bekend as die "laggende filosoof". Volgens atomisme het die kosmos bestaan uit leegheid (die niebestaande) en liggame (atome, die bestaande) in 'n oneindige ruimte. Daardie liggame is ewig en kan beweeg. Demokritos het baie geskryf: sestig titels is bekend. Dit het gegaan oor etiek, natuurfilosofie, wiskunde, musiek, poësie en tegniese temas. Hiervan is hoofsaaklik enkele etiese stellings oorgelewer.
Demokritos is om en by 460 v.C. in Abdera, Thrakië gebore.[2] Sy presiese bydraes is kwalik onderskeibaar van dié van sy mentor Leukippos, aangesien hulle in tekste dikwels oor dieselfde kam geskeer is. Spekulasie oor atome, wat aan Leukippos ontleen is, openbaar in sommige se oordeel 'n vlietende ooreenkoms met die negentiende-eeuse begrip van atomiese struktuur, sodat Demokritos beskou word as meer van 'n wetenskaplike as ander Griekse filosowe. Die begrippe van hierdie twee denkgroepe het egter op wyd-uiteenlopende grondslae berus.[3] Demokritos is grootliks verontagsaam in antieke Athene, maar was nietemin goed bekend by die ander noordgebore filosoof, Aristoteles. Daar is vertel dat Plato sodanige afkeur in Demokritos gehad het dat hy gewens het om al sy boeke te verbrand.[4] Deur baie word Demokritos egter geag as die "vader van moderne wetenskap".[5]