Desmond Tutu | |
---|---|
Desmond Tutu in 2013 | |
Gebore | Desmond Mpilo Tutu 7 Oktober 1931 |
Sterf | 26 Desember 2021 (op 90) |
Nasionaliteit | Suid-Afrika |
Beroep | Aartsbiskop van Kaapstad |
Termyn | 1986–1996 |
Voorganger | P.W.R. Russell |
Opvolger | Njongonkulu Ndungane |
Eggenoot | Nomalizo Leah Shenxane |
Kinders | Trevor Thamsanqa Tutu Theresa Thandeka Tutu Naomi Nontombi Tutu Mpho Andrea Tutu |
Ouer(s) | Zacheriah Zililo Tutu (vader) Aletta Tutu (moeder) |
Handtekening | |
Desmond Mpilo Tutu (7 Oktober 1931 in Klerksdorp – 26 Desember 2021 in Kaapstad) was een van Suid-Afrika se bekendste en mees invloedryke kerkleiers. As vurige teenstander van die apartheidsregering ontvang hy in 1984 die Nobelprys vir Vrede vir sy stryd teen rassediskriminasie in Suid-Afrika.[1]
Die hoogtepunte van sy teologiese loopbaan sluit onder meer in sy aanstellings as biskop van Lesotho in 1978, biskop van Johannesburg in 1985 (hy was die eerste swart Suid-Afrikaner in hierdie amp), hoofsekretaris van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke in 1978 en aartsbiskop van Kaapstad in 1986.
In sy hoedanigheid as aartsbiskop van Kaapstad was hy hoof van die Anglikaanse Kerk van Suider-Afrika, 'n pos wat hy prysgegee het in 1996 om al sy aandag te wy aan sy taak as voorsitter van die Waarheid-en-versoeningskommissie. Desmond Tutu, Godsman en politikus, was een van die sentrale figure in die apartheidstryd en het vir dekades onwrikbaar bly glo dat transformasie in Suid-Afrika moontlik was, toe ander al moed opgegee het.