'n Dialek (van die Griekse woord διάλεκτος, dialektos wat "met mekaar praat" beteken) is 'n variëteit van 'n taal wat kenmerkend van 'n besondere groep van die taal se sprekers is.[1] Die term word meestal gebruik vir streekstaalpatrone, maar 'n dialek kan ook deur ander faktore, soos sosiale stand, bepaal word.[2]
'n Dialek wat met 'n sosiale stand geassosieer word staan as 'n sosiolek bekend. Ander taalvariëteite sluit in: standaardtale, wat gestandaardiseerde vorme is wat vir openbare gebruik ontwikkel is; vaktale, wat gekenmerk word deur verskille in woordeskat; omgangstaal; patois; pidgins, kreole en argots. Die spesifieke spraakpatroon van 'n individu staan belend as 'n idiolek.
Dialekte, soos alle taal variëteite, is stelselmatig met konsekwente reëls en beperkings op leksikale (woordeskat), fonologiese (uitspraak) en grammatikale vlak.[3] 'n Dialek word dus van ander dialekte of standaardtale onderskei op grond van konsekwente verskille in woordeskat, grammatika, en uitspraak, insluitend prosodie. Waar die onderskeid slegs in terme van uitspraak gemaak word, word daar van 'n aksent eerder as 'n dialek gepraat.
In taalkunde is die term dialek 'n neutrale term wat verwys na die stelselmatige taalgebruik deur 'n groep sprekers en dra dit geen negatiewe konnotasies soos wat soms in alledaagse gebruik geïmpliseer word nie (byvoorbeeld waar bedoel word "nie-standaard" of "substandaard" spraak). Taalkundige praat almal ten minste een dialek. By die studie van taal, en dialekte in besonder, word die hooffokus op gesproke taal geplaas aangesien geskrewe taal waardevolle inligting oor die uitspraak en klankstelsel van 'n taal of dialek ontbreek en omdat gesproke taalvaardigheid universeel is terwyl die gebruik van geskrewe taal beperk is tot geletterdes.[3]