Duitse Demokratiese Republiek

Deutsche Demokratische Republik
Duitse Demokratiese Republiek

1949–1990
Vlag Wapenskild
Vlag Wapen
Leuse: Proletarier aller Länder, vereinigt Euch!
(Duits vir: "Werkers van die wêreld, verenig!")
Volkslied: Auferstanden aus Ruinen
(Duits vir: "Herrys uit die ruïnes")
Ligging of Oos-Duitsland
Ligging of Oos-Duitsland
Ligging van die Duitse Demokratiese Republiek
Hoofstad Oos-Berlyn
52°31′N 13°23′O / 52.517°N 13.383°O / 52.517; 13.383
Taal/Tale Duits en Sorbies
Regering Republiek
President
 - 1949–1960 Wilhelm Pieck
Voorsitter van die Staatsraad
 - 1960–1973 Walter Ulbricht
 - 1973–1976 Willi Stoph
 - 1976–1989 Erich Honecker
 - 1989 Egon Krenz
 - 1989–1990 Manfred Gerlach
President van die Volkskammer
 - 1949–1969 Johannes Dieckmann
 - 1969–1976 Gerald Götting
 - 1976–1989 Horst Sindermann
 - 1989–1990 Günther Maleuda
Wetgewer Parlement
Historiese tydperk Koue Oorlog
 - Tweede Wêreldoorlog 19391945
 - Grondwet goedgekeur 7 Oktober 1949
 - Volksopstand 17 Junie 1953
 - Berlynse krisis 4 Junie 1961
 - Toetreding tot die Verenigde Nasies 18 September 1973
 - Vredevolle rewolusie 13 Oktober 1989
 - Val van die Berlynse Muur 9 November 1989
 - Duitse hereniging 3 Oktober 1990
Oppervlakte
 - 1950 108 333 km2
41 828 sq mi
Bevolking
 - 1950 skatting 18 388 000 
     Digtheid 169,7 /km² 
439,6 /sq mi
 - 1970 skatting 17 068 000 
     Digtheid 157,6 /km² 
408,1 /sq mi
 - 1990 skatting 16 111 000 
     Digtheid 148,7 /km² 
385,2 /sq mi
Geldeenheid Oos-Duitse mark (1949–1990), amptelik genoem:
  • Deutsche Mark (1949–1964)
  • Mark der Deutschen Notenbank (1964–1967)
  • Mark der DDR (1967–1990)
  • Deutsche Mark (vanaf 1 Julie 1990)

Die Duitse Demokratiese Republiek (Duits: Deutsche Demokratische Republik, [ˈdɔʏtʃə demoˈkʁaːtɪʃə ʁepuˈbliːk], ) het as 'n sosialistiese Duitse "Arbeiders- en Boerestaat"[1] tussen 7 Oktober 1949 en 2 Oktober 1990 op die grondgebied van die voormalige Sowjetbesettingsone in Oos-Duitsland en die Sowjetsektor van Berlyn (of Oos-Berlyn) bestaan.

Die utopiese droom van 'n beter wêreld – Xde Wêreldfees van die Jeug (Weltjugendfestspiele) in Berlyn. Weste en ooste was gedurende die Koue Oorlog in 'n wedloop van propagandaleuens gewikkel. In 1973 het die Amerikaanse buitelandse beleid met die brutale staatsgreep in Chili en die sinnelose oorlogvoering in Vietnam in die hande van Moskou en Oos-Berlyn se bewindhebbers gespeel en van hulle 'n tyd lank morele wenners gemaak
Kaart van die Duitse Demokratiese Republiek se administratiewe distrikte
'n Verdeelde Duitsland: Wes-Duitsland word in grys aangedui en die Duitse Demokratiese Republiek in groen

Die staat, wat vyf maande na die stigting van die Westerse Bondsrepubliek Duitsland amptelik uitgeroep is, is steeds deur die Sosialistiese Eenheidsparty van Duitsland (SED), 'n samesmelting van die voormalige Kommunistiese en Sosiaal-Demokratiese Partye van Duitsland, oorheers en het in politieke en ekonomiese opsig steeds 'n deel van die Oosblok gevorm.

Die sentraalgeleide ekonomie van die DDR het nie daarin geslaag om dieselfde hoë lewenstandaard soos in Wes-Duitsland te skep nie, alhoewel die land as die welvarendste in die Oosblok beskou is. Om die groot stroom vlugtelinge, wat in die vyftiger- en vroeë sestigerjare 'n nuwe heenkome in Wes-Duitsland gesoek het, te beperk, het die SED-regering 'n bewaakte grenslyn met Wes-Duitsland opgerig. Dit het ook die berugte Berlynse muur ingesluit.

Desondanks was die dekade tussen 1961 en 1971 gekenmerk deur 'n euforiese fase. Sowjet-Russiese prestasies soos die eerste mensgemaakte satelliet Spoetnik en die eerste ruimtevlug van 'n kosmonout het algaande die oortuiging laat ontstaan dat die sosialistiese eksperiment suksesvol sou wees. In 1961 het die Sowjet-bewind amptelik besluit om 'n kommunistiese samelewing te verwesenlik. Ook in die DDR het bewindhebbers vol optimisme die utopiese droom van ongekende ekonomiese en wetenskaplike vooruitgang begin droom. Om jongmense en kulturele en tegnologiese elites se guns en politieke steun te wen, is hervormings begin en politieke kompromisse aangegaan. Filmkuns, musiek, literatuur het begin opbloei danksy nuwe vryhede. Die optimistiese gees of Aufbruch nach Utopia[2] het in 1968 skielik tot stilstand gekom met die militêre en politieke inmenging in Praag se politieke "lente" van hervormings.

Die uitgebreide welvaartstelsel, wat 'n werksgeleentheid vir iedereen, bekostigbare behuising en lae pryse vir stapelvoedsel voorsien het, het die DDR net soos die oliekrisis in die sewentiger- en die globaliseringstendense van die tagtigerjare geleidelik in 'n ernstige ekonomiese krisis gedompel. Die handhawing van 'n relatief hoë lewensstandaard en skuldbetaling aan buitelandse krediteure moes – om politieke redes – voorkeur geniet bo die benodigde beleggings en modernisering van nywerhede.[3]

Die demokratisering van die Sowjetunie in die tyd van die glasnost- en perestroika-beleid het uiteindelik ook die politieke en militêre magsbasis van die SED-heerskappy verbreek, en die DDR-bewind het sy wettigheid verloor. Binne enkele maande het staat en party in 'n ongekende politieke grondverskuiwing begin verbrokkel. Ná massabetogings laat in 1989 is nog in die volgende jaar die eerste demokratiese verkiesing gehou. In die somer van daardie jaar is die Wes-Duitse geldstelsel ingevoer wat die Mark der DDR (Mark van die DDR) vervang het.

Op 3 Oktober 1990 het die vyf nuwe deelstate van die DDR (Mecklenburg-Voorpommere, Brandenburg, Sakse-Anhalt, Sakse en Thüringen) met die Bondsrepubliek Duitsland (waarna vroeër dikwels ook as Wes-Duitsland verwys is) verenig.

  1. (de) Handbuch Deutsche Demokratische Republik. Jubiläumsausgabe 1984. Tweede hersiene uitgawe. Leipzig: VEB Bibliographisches Institut 1984, bl. 212
  2. (de) Stefan Wolle: Aufbruch nach Utopia. Alltag und Herrschaft in der DDR 1961–1971. Belin: Ch. Links 2013
  3. (de) Bernd Martens: Die Wirtschaft in der DDR. Bundeszentrale für politische Bildung (bpb), 30 Maart 2010

Developed by StudentB