Emosie

Persoon wat verskillende emosies toon.

'n Emosie kan beskryf word as 'n innerlike belewenis of gevoel van byvoorbeeld vreugde, angs, boosheid of hartseer wat spontaan te voorskyn kan kom of deur 'n bepaalde situasie opgewek kan word. Emosies gaan egter nie net met subjektiewe gevoelens gepaard nie, maar ook met liggaamlike reaksies en bepaalde gedrag. In 'n biologiese sin kan mens 'n emosie ook definieer as 'n reaksie van die brein op 'n gemoedsprikkel. Dié kom sowel by mense as diere feitlik outomaties in 'n bepaalde gedragspatroon tot uiting (byvoorbeeld om op die vlug te slaan of toenadering te soek) asook in fisiologiese reaksies. Die gevoel kan dan beskou word as 'n spesiale uiting of vorm van emosie wat tipies is van mense, naamlik die bewuste belewenis of geestesrefleksie van 'n emosie.

Emosie is enige bewuste ervaring wat deur intensiewe breinaktiwiteit en 'n bepaalde graad van genot of misnoeë gekenmerk word. Wetenskaplike diskoers skep ander betekenisse en daar is geen konsensus oor 'n definisie vir emosie nie. Emosie word dikwels met bui, temperament, persoonlikheid, gesindheid en motivering vervleg. Volgens sommige teorieë is kognisie of kennis 'n belangrike aspek van emosie. Wanneer mense primêr emosioneel optree, lyk dit dalk asof hulle nie dink nie, maar verstandelike prosesse is steeds noodsaaklik, veral in die interpretasie van gebeure. Byvoorbeeld, die besef dat jy jouself in 'n gevaarlike situasie bevind en die gevolglike opwekking van jou liggaam se senuweestelsel (vinnige hartklop en vlak asemhaling, sweet, gespanne spiere) is integraal tot die ervaring van vrees. Ander teorieë beweer egter dat emosie apart van kognisie is en dat emosie kognisie voorafgaan. Deur 'n emosie bewustelik te ervaar, word 'n kognitiewe verteenwoordiging van daardie emosie vanuit 'n vroeëre of hipotetiese ervaring blootgelê, wat weer na 'n toestand van genot of misnoeë terugverwys.

Emosies is ingewikkeld. Volgens party teorieë lei emosies tot fisieke en sielkundige veranderinge wat ons gedrag beïnvloed. Die fisiologie van emosies hou nou verband met die opwekking van die senuweestelsel. Ekstroverte mense is meer sosiaal en druk hul emosies beter uit, terwyl introverte mense hul emosies wegsteek. Emosies is dikwels die dryfkrag agter motivering, of dit nou positief of negatief is.

Emosies bestaan uit verskillende komponente, soos subjektiewe ervaring, sielkundige en fisiologiese veranderinge en instrumentale gedrag. Die verskillende komponente van emosies word verskillend gekategoriseer, afhangend van die akademiese dissipline ter sprake. In sielkunde en filosofie sluit emosies tipies ʼn subjektiewe, bewuste ervaring in wat primêr deur sielkundige en fisiologiese uitdrukkings, biologiese reaksies en geestestoestande gekenmerk word. ʼn Soortgelyke beskrywing van emosies met veelvoudige komponente word in sosiologie aangetref. Volgens Peggy Thoits behels emosies byvoorbeeld fisiologiese komponente, kulturele of emosionele etikette (woede, verras wees, ens.), betekenisvolle liggaamlike aksies en die beoordeling van situasies en kontekste.

Navorsing oor emosie het oor die afgelope twee dekades aansienlik toegeneem met talle velde wat bydraes lewer, insluitende sielkunde, neurologie, endokrinologie, geneeskunde, geskiedenis, sosiologie en rekenaarwetenskap. Die talle teorieë wat die ontstaan, neurobiologie, ervaring en funksie van emosies probeer omskryf, het tot intensiewer navorsing op dié gebied gelei. Huidige navorsingsareas oor die konsep van emosie sluit in die ontwikkeling van materiale wat emosie stimuleer en ontlok.

Emosies kan gedefinieer word as 'n positiewe of negatiewe ervaring wat met ʼn bepaalde patroon of sielkundige aktiwiteit verband hou. Emosies lei tot verskillende sielkundige, gedrags- en kognitiewe veranderinge. Die oorspronklike rol van emosies was om aanpasbare gedrag aan te moedig wat in die verlede tot die oorlewing van die mensdom sou bydra. Emosies is reaksies op belangrike interne en eksterne gebeure.


Developed by StudentB