'n Enklawe is 'n staatsgebied wat geheel en al deur buitelandse grondgebied omring word en gevolglik nie deur 'n tweede staat begrens word en ook geen toegang tot die oop see het nie. Uit die perspektief van die land wat soewereiniteit oor die enklawe het, word dit as 'n eksklawe beskou.
Die term enklawe is afgelei van die Franse werkwoord enclaver ("omring, omsluit"). Aangesien Frans vanaf die 17de eeu as lingua franca van die diplomasie gedien het, is die term in baie ander tale oorgeneem.
Tipiese voorbeelde van enklawes is Lesotho (wat deur Suid-Afrika omring word), San Marino en Vatikaanstad (omring deur Italië) of die Duitse dorp Büsingen am Hochrhein (omring deur Switserland). Tot en met 1990 was ook Wes-Berlyn 'n enklawe in die staatsgebied van die DDR (Oos-Duitsland).
Enklawes kan as gevolg 'n verskeidenheid van geskiedkundige, politieke of geografiese ontwikkelinge ontstaan. Sommige areas is as enklawes agtergelaat bloot as gevolg van veranderings in die loop van 'n rivier. Aangesien dit baie ongerieflik kan wees om in 'n enklawe te woon en baie ooreenkomste bereik moet word deur beide betrokke lande oor posadresse, elektrisiteitsvoorsiening en deurgangsreg, is die neiging om enklawes te elimineer en baie gevalle wat vroeër bestaan het is nou verwyder.
Volgens sy wyer betekenis kan die term enklawe ook na enige gebied verwys wat temidde van 'n ander geografiese streek geleë is – byvoorbeeld ten opsigte van die verspreiding van dier- en plantspesies (soos in die geval van 'n naaldbosenklawe in 'n uitgestrekte loofbos), tale, etniese groepe, godsdienste en ander kenmerke.