Ennis House



Ennis House

2607 Glendover Avenue
Los Feliz, Los Angeles, CA
Vlag van Verenigde State van Amerika Verenigde State


Opgerig

1924


Argitekte

Frank Lloyd Wright
Lloyd Wright


Boustyl
Mayan Revival


Los Angeles Historic-Cultural Monument
LHCM #149


Webtuiste
ennishouse.com


Ennis House is 'n ikoniese privaat huis in die Los Feliz-buurt van Los Angeles, suid van Griffith Park op 'n heuweltop geleë waar dit 'n panoramiese uitsig oor die middestad van Los Angeles en die Stille Oseaan bied. Die huis is in 1923 deur die befaamde argitek Frank Lloyd Wright in opdrag van Charles en Mabel Ennis, eienaars van 'n winkelketting vir mansklere, in die Mayan Revival-styl ontwerp en deur die argitek se seun Lloyd Wright gebou en in die volgende jaar voltooi. Ennis House was die vierde en grootste woongebou wat volgens Wright se tekstielblokontwerp uit voorafvervaardigde betonblokke met kontrasterende gladde en bewerkte oppervlakke ontstaan het - naas die projekte La Miniatura in Pasadena, en Storer House en Freeman House wat in die Hollywood Hills verwesenlik is.

Danksy sy unieke ligging naby Hollywood en sy buitengewone ontwerp het Ennis House steeds weer die aandag van rolprentmakers getrek. Naas televisie-advertensies en -programme het die huis ook as toneel vir rolprente soos House on Haunted Hill (1959) en Ridley Scott se Blade Runner (1982) gedien.

Ennis House het in verval geraak nadat dit in die Northridge-aardbewing van 1994 en nog eens deur swaar reën in 2004/05 beskadig is. In 2005 is dit by die National Trust for Historic Preservation se lys van die «11 Mees bedreigde historiese geboue» («11 Most Endangered Historic Places») gevoeg. Ná enkele jare se herstel- en stabilisasiewerk is die huis in 2011 vir $4,5 miljoen aan die miljardêr Ron Burkle verkoop. Burkle, 'n bekende supermarkmagnaat, was een van die borge wat die koste van $17 miljoen vir die restourasiewerk gedra het - naas die Ennis House Foundation en die Federal Emergency Management Agency wat 'n skenking vir onder meer die gebou se strukturele stabilisering gemaak het. Op 16 Oktober 2019 het Burkle die huis aan 'n (nog) onbekende koper verkoop teen die rekordprys van $18 miljoen - die hoogste bedrag ooit wat vir 'n Frank Lloyd Wright-huis betaal is.[1][2]

  1. Mansion Global, 16 Oktober 2019: Frank Lloyd Wright’s Iconic Ennis House Sells for $18 Million. Besoek op 6 November 2019
  2. Architectural Digest, 17 Oktober 2019: Frank Lloyd Wright’s Ennis House Is Officially the Most Expensive Wright-Designed Home Ever Sold. Besoek op 6 November 2019

Developed by StudentB