Die Euganese Heuwels (Italiaans: Colli Euganei [ˈkɔlli euˈɡaːnei]) is 'n Noord-Italiaanse heuwelreeks van vulkaniese oorsprong met hoogtes van tussen 300 en 600 m wat enkele kilometer suidwes van Padua skielik uit die uitgestrekte Paduaans-Venetiese Vlakte verrys. Die reeks, wat hoofsaaklik uit laccoliete bestaan wat tussen 40 en 35 miljoen jaar gelede gedurende twee periodes van vulkaniese aktiwiteit gevorm is, strek oor 'n afstand van sowat 15 km, met 'n wydte van 12 km. Die hoogste punt is Monte Venda op 601 m bo seevlak (inheemses verwys na die 81 heuwels gewoonlik as monti of berge). Die heuwelketting se naam is ontleen aan die Euganeërs, 'n halfmitiese volk wat die gebied na bewering voor die aankoms van die Veneters bewoon het.
Die heuwellandskap is in 1989 tot die eerste natuurpark in die administratiewe streek Veneto benoem (Parco regionale dei Colli Euganei met 'n oppervlakte van 18 694 hektaar). Die reeks staan onder meer bekend vir sy geotermiese aktiwiteite met gewilde warmbaddens soos Abano Terme, Montegrotto Terme en Galzignano Terme, en 'n verskeidenheid wit en rooi wyne van oorsprong (DOC) wat hier verbou word, net soos die wit Moscato.
Landskapstonele in die gebied word oorheers deur eeue oue kastaiing- en eikebosse, Mediterreense macchia (fynbos) en wingerd- en vrugteterrasse. In hierdie rustige heuwellandskap sowat sestig kilometer van Venesië af het - danksy 'n uitgestrekte en wyd vertakte kanaalstelsel wat die Euganese Heuwels met Venesië verbind het - gesofistikeerde villa's (soos die Villa dei Vescovi in Luvigliano di Torreglia en Villa Barbarigo in Galzignano) as berg- en somerverblyf vir welvarende Venesiane ontstaan, maar ook kloosters soos Praglia en Rua. Die streek se geskiedenis strek verder terug. Die heuwels word beskou as die bakermat van die Paleo-Venetiese beskawing. Die gebied se Middeleeuse argitektoniese erfenis sluit dorpies soos Arquà Petrarca (die laaste woon- en rusplek van die digtervors Francesco Petrarca) en Monselice met sy versterkings in.