Euklidiese meetkunde is 'n wiskundige teorie toegeskryf aan die Aleksandriese Griek Euklides, wie se werk Die Elemente die vroegste stelselmatige studie van meetkunde bevat wat bekend is. Alhoewel baie van die resultate reeds bekend was aan vroeëre wiskundiges, was Euklides die eerste om te wys hoe hierdie resultate pas in 'n omvattende deduktiewe en logiese stelsel.
Vir meer as tweeduisend jaar, was die byvoeglike naamwoord "Euklidiese" oorbodig, aangesien geen ander soort meetkunde nog ontdek was nie. Euklides se aksiomas was so intuïtief voor die hand liggend dat stellings wat daardeur bewys was, as absoluut waar beskou is. Vandag is daar egter vele modelle van nie-Euklidiese meetkunde bekend, waarvan die eerstes in die vroeë 19de eeu ontdek is. Dit word ook nie langer as vanselfsprekend aanvaar dat Euklidiese meetkunde fisiese ruimte beskryf nie. 'n Gevolg van Einstein se algemene relatiwiteitsteorie is dat Euklidiese ruimte 'n goeie benadering is tot die eienskappe van fisiese ruimte slegs indien die gravitasie-veld nie te sterk is nie.