Farao | |
---|---|
’n Tipiese uitbeelding van ’n farao.
| |
Heerser van | Antieke Egipte |
Eerste farao | Narmer (of Menes) |
Laaste farao | Cleopatra en Caesarion |
Woning | Wissel van eeu tot eeu |
Aangestel deur | Goddelike mag |
Begin | c. 3150 v.C. |
Einde | 30 v.C. |
| ||
pr-ˤ3 "Groot huis" in hiërogliewe |
---|
Farao is die algemene titel van die konings van Antieke Egipte. Die naam kom van die Egiptiese per 'āa, wat "groot huis" of "paleis" beteken. Die eintlike woord vir koning was nesoet. Gedurende die regeringstyd van Toetmoses III (ongeveer 1479-1425 v.C.) in die Nuwe Ryk, ná die buitelandse regering van die Hyksos gedurende die Tweede Oorgangstydperk, het farao die aanspreekvorm vir ’n koning geword.[1]
In die vroeë tydperk het Egiptiese konings tot drie titels gehad: die Horusnaam, die praenomen (nswt-bjtj) en die Nebty-naam (nbtj). Die Goue Horus-naam en nomen is later bygevoeg.
In die Egiptiese gemeenskap was godsdiens baie belangrik in die alledaagse lewe. Een van die farao se rolle was om as bemiddelaar tussen die gode en die mense op te tree; hy was dus die godsdienstige en burgerlike leier. Hy het al die grond in die land besit, wette gemaak, belasting ingesamel en Egipte as aanvoerder van die leër teen invallers beskerm.[2] Op godsdiensgebied het hy toesig gehou oor seremonies en die terreine vir nuwe tempels gekies. Hy was verantwoordelik vir die handhawing van die Maät (mꜣꜥt), of kosmiese balans, en vir die reg.[3]
In die vroee dae, voor die vereniging van Benede- en Bo-Egipte, het die Desjret of "Rooi Kroon" die koninkryk Benede-Egipte verteenwoordig en die Hedjet of "Wit Kroon" die koninkryk Bo-Egipte. Ná die vereniging van die twee koninkryke in een Egipte is die krone gekombineer. Mettertyd is nuwe hoofbedekkings ingevoer en soms is ’n paar selfs gelyk gedra.