Die kernwapen met die kodenaam Fat Man is op 9 Augustus 1945 oor Nagasaki, Japan, deur die Verenigde State van Amerika laat ontplof. Dit was die tweede en laaste kernwapen wat ooit in oorlog aangewend is, en die ontploffing was die derde mensgemaakte kernontploffing in die geskiedenis. Dit is gebou deur wetenskaplikes en ingenieurs by die Los Alamos Laboratorium met plutonium van die Hanfordterrein as deel van die Manhattan-projek.
Die naam Fat Man verwys gewoonlik na die ontwerp van die bom, want dit het 'n wye, ronde vorm. Dit was ook bekend as die Merk III. Fat Man was 'n ineenploftipe kernwapen met 'n soliede plutoniumkern. Dit was 3,25 meter lank, het 'n omtrek van 1,52 meter gehad, het 4 545 kilogram geweeg en is op 'n hoogte van 1 800 voet bo die stad laat ontplof. Dit is laat val uit die Boeing B-29 Superfortress-bomwerper Bockscar onder bevel van Frederick C. Bock. Vir die Fat Man missie is Bockscar geloods deur majoor Charles W. Sweeney.
Die bom het 'n lading van ongeveer 20 kiloton of 8,4 x 1013 joule = 84 TJ (terajoule) gehad. Dit was bietjie meer as die bom Little Boy wat 3 dae tevore op Hirosjima laat val is. Ongeveer 40 000 mense het in die ontploffing omgekom. Daar was effens minder skade as in Hirosjima omdat Nagasaki ietwat heuwelagtiger is.
Twee verdere Fat Man-bomme is tydens Operation Crossroads-kerntoetse by die Bikini-atol in 1946 ontplof. Ongeveer 120 Fat Man-eenhede is tussen 1947 en 1949 geproduseer, toe dit vervang is deur die Merk 4 kernbom. Produksie van die Fat Man is in 1950 gestaak.