’n Fenotipe is die samestelling van ’n organisme se waarneembare eienskappe, soos sy morfologie, ontwikkeling, biochemiese of psigologiese eienskappe, gedrag, gevolge van gedrag (soos voëlneste) ens. Richard Dawkins het in 1978[1] en weer in 1982 voorgestel voëlneste en ander strukture soos bewerdamme is "uitgebreide fenotipes". ’n Fenotipe is die eindproduk van ’n organisme se gene plus die invloed van omgewingsfaktore en die wisselwerking tussen die twee. Met omgewingsfaktore word hier bedoel alle faktore wat vanaf die sigootvorming die kenmerke van 'n individu kan beïnvloed.[2] Wanneer twee of meer duidelik verskillende fenotipes in dieselfde bevolking of spesie bestaan, word dit polimorf genoem.
Die genotipe van ’n organisme daarteenoor, is die oorgeërfde instruksies wat dit in sy genetiese kode dra. Nie alle organismes met dieselfde genotipe lyk dieselfde of tree dieselfde op nie, want voorkoms en optrede word beïnvloed deur omgewings- en ontwikkelingsfaktore en skep so verskillende fenotipes. Net so het alle organismes wat dieselfde lyk, nie noodwendig dieselfde genotipe nie.
Hierdie onderskeid tussen genotipe en fenotipe is in 1911 deur Wilhelm Johannsen voorgestel om ’n onderskeid te maak tussen ’n organisme se oorgeërfde eienskappe en die eindproduk van hierdie oorgeërfde eienskappe.[3][4]