Flamenco

‘n Flamenco danser deur Gilles Larrain.

Flamenco (Spaanse uitspraak: [flaˈmeŋko]), in sy strengste sin, is 'n kunsvorm gebaseer op die verskillende volksmusiektradisies van Suid-Spanje, ontwikkel binne die gitano-subkultuur van die streek Andalusië, en het ook historiese teenwoordigheid in Extremadura en Murcia.[1][2][3] In 'n wyer sin word die term gebruik om te verwys na 'n verskeidenheid van beide kontemporêre en tradisionele musiekstyle tipies van Suid-Spanje. Flamenco is nou geassosieer met die gitanos van die Romani-etnisiteit wat aansienlik bygedra het tot die ontstaan en professionalisering daarvan. Sy styl is egter uniek Andalusies en flamenco-kunstenaars het histories Spanjaarde van beide gitano- en nie-gitano-erfenis ingesluit.[4]

Die oudste rekord van flamenco-musiek dateer uit 1774 in die boek Las Cartas Marruecas deur José Cadalso.[5] Die ontwikkeling van flamenco oor die afgelope twee eeue is goed gedokumenteer: "die teaterbeweging van sainetes (eenbedrywe) en tonadillas, populêre liedboeke en liedblaaie, gebruike, studies van danse en toques, koerante, grafiese dokumente in skilderye en gravures ... in voortdurende evolusie saam met ritme, die poëtiese strofes en die atmosfeer.”[6]

Op 16 November 2010 het UNESCO flamenco as een van die meesterstukke van die mondelinge en ontasbare erfenis van die mensdom verklaar.[7]

  1. (Leblon 2003, 72-73)
  2. (Aoyama 2007, 105)
  3. (Manuel 1989, 51-52)
  4. (Hayes 2009, 31-37)
  5. (Akombo 2016, 240–241)
  6. (Ríos Ruiz 1997, 16-17)
  7. "Flamenco". ich.unesco.org. UNESCO Intangible Cultural Heritage List. 2010. Besoek op 30 September 2021.

Developed by StudentB