Die galblaas (of vesica biliaris[1]) is 'n hol, peervormige orgaan net onder die lewer, agter, maar effens aan die regterkant van die lyf. Die orgaan is met 'n galbuis aan die lewer verbind. By die plek waar die lewerbuis en galbuis bymekaar aansluit, is 'n klein vertakking. Dit word die galblaaspyp genoem.[2] Die galblaas vang die gal op, wat deur die sentrale galgang (of ductus choledochus) na die derm afgeskei word as vethoudende voedsel die derm binnekom. Gal bevat stowwe wat vet tot klein vetdruppels in 'n waterige oplossing kan verdeel (emulsifiseer). Ensieme kan die vet dan makliker verteer, omdat dit oor 'n groter oppervlak op die vet kan inwerk.
Die galblaas vorm 'n reservoir vir die galvloeistof wat deur die lewer geproduseer word. Die galblaas het 'n wateronttrekkende werking op die gal wat sodoende aangedik word en 'n tipiese groen kleur kry. Die hoeveelheid gal wat na die derm afgevoer word hang af van die hoeveelheid vet in die derm wat verteer moet word.
Nie alle soogdiere het 'n galblaas nie. Die rot, byvoorbeeld, het geen spesialiseer orgaan vir die stoor van gal nie. Hulle is juis daarom geskik as eksperimentele diere in die biochemie: hulle verteer voedsel meer direk, en hulle kan nie braak nie.
'n Mens se galblaas is omtrent 7-10 cm lank en bevat ongeveer 50 ml gal. Dit kan verwyder word. Die prosedure word cholesistektomie genoem. Mense wat nie 'n galblaas het nie kan nie vetterige kos inneem nie.