Galileo Galilei | |
Portret van Galileo Galilei deur Giusto Sustermans in 1636
| |
Gebore | Pisa, Hertogdom van Florence, Italië | 15 Februarie 1564
---|---|
Oorlede | 8 Januarie 1642 (op 77) Arcetri, Groothertogdom van Toskane, Italië |
Blyplek | Groothertogdom van Toskane, Italië |
Nasionaliteit | Italië |
Vakgebied | Sterrekunde, fisika, natuurfilosofie en wiskunde |
Instelling(s) | Universiteit van Pisa Universiteit van Padua |
Alma mater | Universiteit van Pisa |
Doktorale promotor(s) | Ostilio Ricci |
Doktorale student(e) | Benedetto Castelli, Mario Guiducci, Vincenzo Viviani |
Bekend vir | Kinematika, dinamika, teleskopiese waarnemingsastronomie, heliosentrisme |
Handtekening |
Galileo Galilei (15 Februarie 1564 – 8 Januarie 1642) was 'n Italiaanse fisikus, wiskundige, sterrekundige en filosoof wat 'n groot rol in die Wetenskaplike Revolusie gespeel het. Sy prestasies sluit die ontwikkeling van die teleskoop en die daaropvolgende sterrekundige waarnemings in. Hy was ook 'n ondersteuner van Nicolaas Copernicus se teorieë. Daar is na Galileo verwys as die "vader van moderne waarnemende sterrekunde",[1] die "vader van moderne fisika",[2] en die "vader van (moderne) wetenskap".[2][3] Volgens die Britse teoretiese fisikus Stephen Hawking was "Galileo, miskien meer as enige ander persoon, verantwoordelik vir die geboorte van moderne wetenskap".[4]
Die eerste teleskoop en mikroskoop het heel waarskynlik in Nederland ontstaan iewers tussen 1590 en 1610. Hierdie kennis het gou reeds na ander lande versrpei, en teen 1610 het Galileo reeds sy eie teleskope en mikroskope in Italië gebou. Die lensstelsel wat hy gebruik het, het verskil van die van die Nederlandse uitvinders, en hoewel dit doeltreffend gewerk het, was Galileo se mikroskope maar taamlik onhanteerbaar.
Galileo is ook een van die wetenskaplikes wat die fondamente vir kinematika (ook genoem "bewegingskuns"), die studie van beweging, gelê het. Onder sy bydrae tot sterrekunde was die teleskopiese bevestiging van die fases van Venus, die ontdekking van Jupiter se vier grootste mane: Kallisto, Europa, Ganimedes en Io (ook bekend as die "Mane van Galilei" ter ere aan hom) en die waarneming en analise van sonvlekke. Galileo het ook bydraes tot toegepaste wetenskap en tegnologie gelewer en die ontwerp van die kompas verbeter.
Galileo se ondersteuning van Copernicus se teorieë was omstrede tydens sy leeftyd, waartydens 'n groot meerderheid filosowe en sterrekundiges die geosentriese siening dat die Aarde bewegingloos in die middel van die heelal is aangehang het. Ná 1610 het Galileo Copernicus se teorie, dat die Son in die middel van die heelal is en dat die Aarde daarom wentel, openlik ondersteun en hy is sterk verset deur sommige filosowe en geestelikes. Twee geestelikes het hom selfs by die Romeinse Inkwisisie van 1615 aangekla en, alhoewel hy van alle klagtes verontskuldig is, het die Rooms-Katolieke Kerk in Februarie 1616 die teorie nietemin as "vals en in kontras met die Heilige Skrif" verklaar.[5][6] Na waarskuwings het Galileo ingestem om sy ondersteuning van die teorie te staak, maar het sy sienings later weer 'n keer verdedig in sy bekendste werk, Dialogo sopra i due massimi sistemi del mondo ("Dialoog rakende die twee vernaamste wêreldstelsels"), wat in 1632 vrygestel is. As gevolg van hierdie boek is hy deur die Inkwisisie verhoor, geforseer om sy meningsuitings terug te trek en tot lewenslange huisarres gevonnis.