Gammaflits

’n Kunstenaarsvoorstelling van die evolusie van ’n swaar ster terwyl kernfusie ligte elemente in swaarder elemente omskakel. Wanneer fusie nie meer genoeg druk veroorsaak om swaartekrag teen te werk nie, plof die ster vinnig in en vorm ’n swartkolk. Teoreties kan energie tydens die inploffing al met die rotasie-as langs vrygestel word en gammaflitse veroorsaak.

Gammaflitse is uiters energieke ontploffings wat in verafgeleë sterrestelsels waargeneem is. Hulle is sover bekend die helderste elektromagnetiese verskynsels in die heelal.[1] Flitse kan van 10 millisekondes tot verskeie ure duur.[2][3][4] Ná ’n aanvanklike flits van gammastrale is ’n langer "nagloed" waarneembaar in langer golflengtes (X-straal, ultraviolet, opties, infrarooi, mikrogolf en radio).[5]

Die intense uitstraling van die meeste gammaflitse vind vermoedelik plaas tydens ’n supernova of hipernova wanneer ’n vinnig roterende, swaar ster inplof en ’n neutronster, kwarkster of swartkolk vorm. ’n Ander, korter soort gammaflits word blykbaar deur ’n ander proses geskep: die samesmelting van dubbele neutronsterre. Die oorsaak van ’n voorafgaande flits wat in sommige van hierdie kort verskynsels waargeneem word, is moontlik die ontwikkeling van ’n resonansie tussen die kors en kern van sulke sterre vanweë die enorme getykragte wat in die sekondes voor die botsing ondervind word en veroorsaak dat die hele kors van die ster versplinter.[6]

Die bron van die meeste gammaflitse is miljarde ligjare van die Aarde af, wat daarop dui die flitse is beide uiters energiek (’n tipiese flits stel omtrent soveel energie vry as die Son in die hele 10 miljard jaar van sy bestaan) en uiters skaars (’n paar per miljoen jaar per sterrestelsel).[7] Alle waargenome gammaflitse het buite die Melkweg plaasgevind. Daar is ’n hipotese dat ’n gammaflits in die Melkweg wat direk na die Aarde gerig is, ’n massa-uitwissing van lewe sal kan veroorsaak.[8]

Gammaflitse is in 1967 die eerste keer deur die Vela-satelliete waargeneem wat ontwerp is om geheime kernwapentoetse op te spoor. Ná hul ontdekking is honderde teoretiese modelle voorgestel om dié flitse te verklaar, soos die botsing tussen komete en neutronsterre.[9] Min inligting was beskikbaar om dié modelle te bewys, totdat die eerste X-straal- en optiese nagloede in 1997 waargeneem is en hul rooiverskuiwing gemeet is om hul afstand en die omvang van hul energievrystelling te bepaal. Hierdie ontdekkings en die daaropvolgende bestudering van die sterrestelsels en supernovas wat met hulle verbind word, het gelei tot die slotsom dat hulle in verafgeleë sterrestelsels voorgekom het.

  1. "Gamma Rays". NASA (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 28 Desember 2016.
  2. Atkinson, Nancy. "New Kind of Gamma Ray Burst is Ultra Long-Lasting". Universetoday.com. Besoek op 15 Mei 2015.
  3. Gendre, B.; Stratta, G.; Atteia, J. L.; Basa, S.; Boër, M.; Coward, D. M.; Cutini, S.; d'Elia, V.; Howell, E. J; Klotz, A.; Piro, L. (2013). "The Ultra-Long Gamma-Ray Burst 111209A: The Collapse of a Blue Supergiant?". The Astrophysical Journal. 766: 30. arXiv:1212.2392. Bibcode:2013ApJ...766...30G. doi:10.1088/0004-637X/766/1/30.
  4. Graham, J. F.; Fruchter, A. S. (2013). "The Metal Aversion of LGRBs". The Astrophysical Journal. 774 (2): 119. arXiv:1211.7068. Bibcode:2013ApJ...774..119G. doi:10.1088/0004-637X/774/2/119.
  5. Vedrenne & Atteia 2009
  6. Tsang, David; Read, Jocelyn S.; Hinderer, Tanja; Piro, Anthony L.; Bondarescu, Ruxandra (2012). "Resonant Shattering of Neutron Star Crust". Physical Review Letters. Vol. 108. p. 5. doi:10.1103/PhysRevLett.108.011102.
  7. Podsiadlowski 2004
  8. Melott 2004
  9. Hurley 2003

Developed by StudentB