Geestesteuring | ||
Klassifikasie en eksterne bronne | ||
Agt vroue wat bekende geestesteurings van die 19de eeu voorstel (Armand Gautier). | ||
ICD-10 | F99 | |
MeSH | D001523 | |
Mediese waarskuwing |
’n Geestesteuring of geestesversteuring, ook onder baie ander name bekend, van sielsiekte tot geestesongesteldheid, is ’n geestelike gedragspatroon of aandoening wat lei tot óf lyding óf ’n mindere vermoë om in die alledaagse lewe te funksioneer, en wat nie as "normaal" beskou word wat betref persoonlikheidsontwikkeling of sosiale aanvaarbaarheid nie. Geestesteurings word gewoonlik gedefinieer deur ’n kombinasie van hoe ’n persoon voel, optree, dink of dinge waarneem. Dit kan verbind word met sekere streke of funksies van die brein of die res van die senustelsel, gewoonlik in ’n sosiale konteks. Geestesteurings is een aspek van geestesgesondheid. Die wetenskaplike studie daarvan word psigopatologie genoem.
Die oorsake van geestesteurings is uiteenlopend en in sommige gevalle onduidelik, en teorieë kan bevindinge van ’n verskeidenheid terreine insluit. Dienste word in psigiatriese hospitale of as deel van gemeenskapsdienste aangetref en ondersoeke word gedoen deur psigiaters, kliniese sielkundiges en kliniese maatskaplike werkers met die gebruik van verskeie metodes soos veral waarneming en ondervraging. Behandelings word verskaf deur verskeie professionele geestesgesondheidswerkers. Psigoterapie en medikasie is twee belangrike behandelingsopsies, asook maatskaplike ingryping, steun deur vriende en familie, en selfhelp. In ’n minderheid gevalle kan daar ook onvrywillige opneming in ’n instelling of onvrywillige behandeling wees as die reg dit toelaat. ’n Stigma en diskriminasie kan bydra tot die lyding en beperkings wat met geestesteurings verbind word, daarom is daar verskeie sosiale bewegings wat ’n begrip daarvoor aanwakker. Voorkoming is nou deel van sommige gesondheidstrategieë.