Genadedood is die praktyk om 'n lewe opsetlik te beëindig om pyn en lyding te verlig.[1][2]
Elke land het ander genadedoodwette. Die Britse Hoërhuis se komitee oor mediese etiek definieer genadedood as " 'n doelbewuste ingryping wat onderneem word met die uitdruklike voorneme om 'n lewe te beëindig om hardnekkige lyding te verlig".[3] In Nederland en België word genadedood verstaan as "die beëindiging van lewe deur 'n dokter op versoek van 'n pasiënt".[4]
Genadedood word op verskillende maniere gekategoriseer, waaronder vrywillige, nie-vrywillige of gedwonge. Vrywillige genadedood is wettig in sommige lande. Nie-vrywillige genadedood (waar 'n pasiënt se toestemming nie beskikbaar is nie) is in alle lande onwettig. Gedwonge genadedood (sonder toestemming of teen die pasiënt se wil) is ook in alle lande onwettig en word gewoonlik as moord beskou.[5] Sedert 2006 is genadedood die mees aktiewe navorsingsgebied in kontemporêre bio-etiek.[6]
In sommige lande is daar 'n verdelende openbare omstredenheid oor die morele, etiese en regskwessies van genadedood. Diegene wat teen genadedood is, noem gewoonlik die heiligheid van die lewe, terwyl voorstanders van genadedoodregte beklemtoon dat lyding verlig word, en dat dit gedoen word om liggaamlike integriteit, selfbeskikking en persoonlike outonomie te behou.[7]