Genotipe

Die verhouding tussen genotipe en fenotipe word hier met ’n vierkant van Punnett geïllustreer vir die kleur van ’n ertjie se kroonblare. Die letters B en b stel die gene vir kleur (genotipes) voor en die prente wys die kleure (fenotipes) wat verskillende kombinasies tot gevolg kan hê.

Die genotipe is in biologie die eienskappe wat ’n organisme van sy ouers geërf het, dus sy genetiese samestelling. Saam met omgewingsfaktore bepaal dit die fenotipe van ’n organisme: die waarneembare eienskappe van die organisme. Met omgewingsfaktore word hier bedoel alle faktore wat vanaf die sigootvorming die kenmerke van 'n individu kan beïnvloed.[1]

Genotipe word veral gebruik met betrekking tot ’n spesifieke eienskap.[2] Die menslike CFTR-geen, wat ’n proteïen kodeer wat chloried-ione oor selmembrane vervoer, kan byvoorbeeld dominant (A) wees as die normale weergawe van die geen, of resessief (a) as ’n gemuteerde weergawe daarvan. Mense wat twee resessiewe allele ontvang, sal sistiese fibrose hê.

Nie-oorerflike DNS-mutasies word gewoonlik nie beskou as verteenwoordigend van die individu se genotipe nie. Soms praat wetenskaplikes en dokters van die (geno)tipe van ’n spesifieke kanker – dit is die genotipe van die siekte en nie van die persoon wat die siekte het nie.

  1. Ensiklopedie van die Wêreld, Deel 4. 1971. N.V. Uitgeversmaatskappij, Amsterdam, Nederland.
  2. "Genotype definition – Medical Dictionary definitions". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 21 September 2013. Besoek op 8 Maart 2015.

Developed by StudentB