George IV | |
---|---|
Koning van die Verenigde Koninkryk en Hannover | |
George IV, ’n skildery deur sir Thomas Lawrence (1822).
| |
Vorstehuis | Hannover |
Titel | Koning van die Verenigde Koninkryk |
Regeer | 29 Januarie 1820 – 26 Junie 1830 |
Gekroon | 19 Julie 1821 |
Voorganger | George III |
Opvolger | William IV |
Ander titels | SM die Koning SKH die Prins-regent SKH die Prins van Wallis SKH die Hertog van Cornwallis |
Volle naam | George Augustus Frederick |
Gebore | 12 Augustus 1762, St. James-paleis, Londen |
Oorlede | 26 Junie 1830, Windsor-kasteel, Berkshire |
Begrawe | St. George-kapel by Windsor-kasteel, Berkshire |
Eggenote | Caroline van Brunswyk |
Kinders | Prinses Charlotte Augusta van Wallis |
Vader | George III |
Moeder | Charlotte van Mecklenburg-Strelitz |
George IV (George Augustus Frederick; 12 Augustus 1762 – 26 Junie 1830) was koning van die Verenigde Koninkryk en Hannover van 29 Januarie 1820 tot met sy dood. Hy was vroeër die prins-regent toe sy pa, George III, siek was aan vermoedelik porfirie.[1] Sy nege jaar lange bewind as regent, van 1811 tot met George III se dood in 1820, is gekenmerk deur die oorwinning in die Napoleontiese Oorloë in Europa.
George was ’n hardkoppige monarg wat dikwels in die politiek ingemeng het, veral in die Katolieke emansipasie, maar nie so erg soos sy pa nie. Vir die grootste deel van sy bewind het lord Liverpool die regering gelei as premier.
George word veral onthou vir die buitensporige leefstyl wat hy as prins en koning gehandhaaf het. Teen 1797 het hy 111 kg (245 lb)[2] geweeg en teen 1824 het sy korset ’n middellyf van 127 cm (50 dm.) gehad.[3] Hy het nie met sy pa of sy vrou, Caroline van Brunswyk, klaargekom nie en het laasgenoemde selfs verbied om sy kroning by te woon. Hy het nuwe vorms van vermaak, styl en smaak aangehang. Hy het die Royal Pavilion in Brighton laat bou, Buckingham-paleis laat verander en Windsor-kasteel laat herbou. Hy het ’n belangrike rol gespeel in die stigting van die National Gallery en King's College in Londen.