George Walker Bush | |
---|---|
43ste President van die Verenigde State | |
Ampstermyn | 20 Januarie 2001 – 20 Januarie 2009 |
Voorganger | Bill Clinton |
Opvolger | Barack Obama |
Geboortedatum | 6 Julie 1946 |
Geboorteplek | New Haven, Connecticut |
Sterftedatum | |
Sterfteplek | |
Eerste Dame | Laura Bush |
Politieke party | Republikein |
Visepresident | Richard Bruce Cheney |
Handtekening |
George Walker Bush (gebore op 6 Julie 1946) was die 43ste president van die Verenigde State, wat vir die eerste keer op 20 Januarie 2001 en vir sy tweede ampstermyn op 20 Januarie 2005 ingehuldig is. Hy is die seun van oudpres. George H.W. Bush.[1]
Bush is vir die eerste keer in 2000 verkies, met een van die kleinste en mees omstrede voorspronge in die Amerikaanse geskiedenis. Ná 'n maand se hertelling van stembriewe en die betwistings van die verkiesingsuitslae in Florida se geregshowe het die Amerikaanse Hooggeregshof uiteindelik George W. Bush as wenner van die presidentsverkiesing verklaar.[2]
Agt maande ná Bush se inhuldiging as President van die Verenigde State in 2001 het negentien kapers, wat by die terreurorganisasie Al-Kaïda betrokke was, die terreuraanvalle van 11 September 2001 uitgevoer. Bush het in reaksie hierop 'n oorlog teen terrorisme verklaar, wat later dié sentrale kwessie van sy presidentskap geword het. Teen die begin van Oktober 2001 het hy die bevel vir die Amerikaanse inval in Afghanistan gegee om sodoende die Taliban-régime omver te gooi en al-Kaïda te probeer vernietig.[3]
In Maart 2003 het Bush die bevel vir die inval in Irak gegee, nadat hy verklaar het dat Irak die bepalings van Resolusie 1441 van die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad aangaande Irak se wapens van massavernietiging nie nagekom het nie.[4][5] Ná die inval in Irak het Bush sy beleid van demokratisering van die Midde-Ooste bekragtig, wat vir die eerste keer in Afghanistan en Irak toegepas is.[6]
In 2004 het hy in sy tweede verkiesingsveldtog as self-verklaarde "oorlogspresident"[7] stemme gewerf en uiteindelik teen die Demokratiese Senator John Kerry gewen.[8] Die verkiesingsveldtog se belangrikste temas was – naas morele waardes en ekonomiese vraagstukke – sy handhawing van die "oorlog teen terrorisme" en die oorlog in Irak.[9][10]
Kwessies rondom die "oorlog teen terrorisme", Irak, die Amerikaanse gevangenekamp Guantanamobaai op die eiland Kuba, die marteling en misbruik van gevangenes in die Irakse gevangenis Abu Ghraib het net soos die geheimediens NSA se praktyke, en federale noodhulpmaatreëls in verband met die Orkaan Katrina omstrede onderwerpe gedurende sy tweede ampstermyn geword.