Geotermiese energie oftewel aardhitte of ondergrondse warmte (nie met geotermiese krag te verwar nie) verwys na die hitte (therme) wat deur die aarde (geo) voortgebring word. Daar word geskat dat planeet Aarde se kern temperature van tot 7 000 °C bereik, en hierdie hitte straal opwaarts deur die aarde se binnekant na die oppervlak. Dit is dieselfde hitte wat die tektoniese beweging van die plate op die mantel voortdryf. Waar twee plate van mekaar af weg beweeg, stoot magma deur die gaping op, en waar twee plate bots, word een gewoonlik gesubdukeer onder die ander een, wat dan lei tot wrywing en verdere hitte (asook die verdere skepping van magma).
Hierdie prosesse laat toe dat pluime verskriklik warm binne-aarde-materiaal in aanraking kom met die aarde se oppervlak, en sodoende hitte na die aarde se oppervlak vervoer. Seismiese aktiwiteit is mees algemeen in hierdie plaatgrensareas, so aardbewings en vulkane word meesal hier aangetref. In ander gevalle vorm groot poele magma onder die kors en hulle kan tot 'n miljoen jaar neem om af te koel. In hierdie gebiede stel diep verskuiwings die water in staat om diep af in die aarde te sypel – dit kan reënwater, water vanaf mere of damme, of selfs seewater wees. Hoe dieper na onder die water beweeg, hoe warmer word dit soos dit in aanraking kom met die magmapoele, en derhalwe sirkuleer dit terug na die oppervlak deur middel van konveksie. Die resultaat kan wissel vanaf warmwaterbronne, spuitbronne, of modderbronne … tot selfs geotermiese reservoirs indien die water vasgevang word deur 'n oorliggende ondeurlatende rotslaag. Hierdie geotermiese reservoirs is aansienlik warmer as hulle oppervlakkige teenpartye, en bereik temperature van tot 350 °C.
Sodanige reservoirs word opgespoor deur van 'n reeks geologiese, seismiese, elektriese en geochemiese middele gebruik te maak, en dan word putte geboor om die stoom en warm water vry te laat - wat, op hulle beurt, ingespan word om turbine-generators te laat draai om elektrisiteit in geotermiese kraginstallasies op te wek.