Gereformeerde kerk Burgersdorp | ||
Sluit in | Burgersdorp en distrik | |
Denominasie | Gereformeerde Kerk | |
Klassis | Burgersdorp | |
Huidige predikant(e) | Hanno van Schaik | |
Belydende lidmate | 112 | |
Dooplidmate | 31 | |
Adres | Van der Waltstraat Burgersdorp, Oos-Kaap | |
Geskiedenis | ||
Stigtingsdatum | 21 Januarie 1860 | |
Eerste predikant | Dirk Postma (1866–1879) |
Die Gereformeerde kerk Burgersdorp is die oudste gemeente van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika in die destydse Kaapprovinsie. Dit is op 21 Januarie 1860[1] gestig, sowat 11 maande ná die Kerk se stigting op Rustenburg op 11 Februarie 1859.
Burgersdorp was dekades lank die grootste Gereformeerde kerk in die Kaapkolonie en omdat die dorp van 1869 tot einde 1904 die Kerk se Teologiese Skool gehuisves het, ook die belangrikste. In 1872, toe daar nog net 10 gemeentes in die Boererepublieke en sewe in die Kolonie was, het Burgersdorp 'n lidmaattal van 989 gehad, vergeleke met Reddersburg in die Oranje-Vrystaat se 714. Vir daardie jaar het geen Transvaalse kerk statistieke na die Almanak ingestuur nie. Van die nege gemeentes wat wel statistieke verskaf het, was Middelburg, Kaap die derde grootste met 537 lidmate en Colesberg vierde met 225 lidmate. In die loop van 1872 is die ander gemeente in die Kolonie wat bestem was om 'n groot rol te speel danksy sy bemoeienis met die Gereformeerde en Christelik-nasionale onderwys, Steynsburg, van Burgersdorp afgestig.
Twintig jaar later, in die Almanak van 1892, het Burgersdorp 1 769 siele en 777 lidmate gehad (eerste in die Kolonie) en Steynsburg 840 en 417 (derde naas Middelburg). Die grootste Transvaalse kerk in daardie jaar was Rustenburg met 2 245 siele en 988 lidmate en die grootste in die Vrystaat Reddersburg met 1 284 en 575 onderskeidelik. Die verskuiwing van die Teologiese Skool begin 1905 na Potchefstroom het net 'n geringe uitwerking op die Burgersdorpse gemeente gehad, want in die Almanak van 1907 word dié kerk se sieletal nog as 1 221 en sy lidmaattal as 671 aangegee, vergeleke met Potchefstroom se 1 175 en 570 onderskeidelik. In die loop van die 20ste eeu het die verstedeliking van lidmate Burgersdorp se sieletal verminder tot 729 in 1931 en sy lidmaattal tot 460, en in 1960 tot 686 en 481 onderskeidelik. In 1998 was dit 290 en 210 en in 2002 229 en 170. Intussen het uit die Teologiese Skool op Potchefstroom 'n universiteit, die PU vir CHO, ontwikkel en het dié dorp mettertyd een van die grootste Gereformeerde sentrums geword. Die gemeentes op die dorp se sieletal het toegeneem van 1 811 in 1960 tot 3 322 in 1998, afgeneem tot 3 049 in 2002 en verder tot 2 945 in 2015.