Germaanse godsdiens is 'n sambreelterm vir die religieuse lewe en praktyke van Germaanse stamme en volkere wat dikwels duidelik van mekaar verskil het. Daar was nogtans ook gebruike en godsdienstige opvattings wat deur alle Germaanse groepe gedeel is, soos die politeïstiese karakter van die godsdiens, die geloof aan 'n hiernamaals, bepaalde offerpraktyke, orakels (die geloof aan Godspraak) en sekere fatalistiese oortuigings. Naas 'n godsdiens het die Germane ook hul eie mitologie ontwikkel.
Die term Germaanse godsdiens dek 'n periode wat van die laat Bronstydperk tot in die tyd van die kerstening van Germaanse volkere in die vroeë Middeleeue. Volgens tydelike en geografiese besonderhede van die beskikbare bronmateriaal onderskei navorsers 'n Noord-Germaanse en 'n Suid-Germaanse godsdiens. Vanweë die afsonderlike ontwikkeling van die Angel-Sakse ná hulle vestiging op die Britse hoofeiland word die Angel-Saksiese godsdiens as 'n derde navorsingsgebied beskou.