Die Goddelike Komedie (Italiaans: Divina Commedia) is 'n Italiaanse epiese gedig deur Dante Alighieri wat omstreeks 1308 begin en omstreeks 1321, kort voor sy dood, voltooi is.[1] Dit word algemeen beskou as die voortreflikste werk in die Italiaanse letterkunde[2] en een van die grootste werke in die wêreldletterkunde.[3]
Die gedig se uitbeelding van die hiernamaals is verteenwoordigend van die Middeleeuse siening soos dit in die 14de eeu in die Westerse Kerk bestaan het. Dit het die Toskaanse dialek help vestig as die gestandaardiseerde Italiaanse taal.[4] Dit word verdeel in drie dele: Inferno, Purgatorio en Paradiso.
Die Italiaanse woord commedia beteken hier 'n verhaal met 'n gelukkige einde, en moenie verstaan word as iets wat die lagspiere prikkel nie.
Die verhaal se letterlike onderwerp is die toestand van die siel ná die dood en dit verteenwoordig 'n uitbeelding van geregtigheid wat uitgedeel word as paslike straf of beloning.[5] Dit beskryf Dante se reise deur die hel, vaevuur en hemel.[6] Allegories verteenwoordig die gedig die siel se reis na God.[7] Dit begin met die erkenning en verwerping van sonde (Inferno), gevolg deur die boetvaardige Christelike lewe (Purgatorio) en eindelik die siel se opvaart na God (Paradiso). Dante gebruik die Middeleeuse Katolieke teologie en filosofie,[8] veral die filosofie uit Summa Theologica van Thomas van Aquino.[9] Gevolglik is die Komedie al genoem "die Summa in digvorm".[10]
In die gedig word die pelgrim Dante vergesel van drie gidse:[11][5] Vergilius (wat die menslike rede verteenwoordig en sy gids is deur die hele Inferno en die grootste deel van Purgatorio);[12] Beatrice (wat die goddelike openbaring,[12] teologie, geloof en genade verteenwoordig en sy gids is aan die einde van Purgatorio en vir die grootste deel van Paradiso);[13] en sint Bernardus (wat peinsende mistisisme en toewyding aan die Maagd Maria verteenwoordig en sy gids is in die laaste kanto's, of onderdele, van Paradiso).[14]
Die werk is aanvanklik slegs Comedìa genoem, wat die Toskaans vir "Komedie" is. Dit was ook die geval met die eerste uitgawe in 1472, maar later is dit verander na die moderne Italiaanse Commedia. Die adjektief Divina is deur Giovanni Boccaccio bygevoeg[15] vanweë die spesifieke onderwerp van die gedig.[16] Die eerste uitgawe wat die gedig Divina Comedia genoem het, was dié van die Renaissance-humanis van Venesië Lodovico Dolce[17] wat in 1555 gepubliseer is.
Erich Auerbach het gesê Dante was die eerste skrywer wat die mens uitgebeeld het as die produkte van 'n spesifieke tyd, plek en omstandighede, in teenstelling met mitiese argetipes of 'n versameling van deugde en ondeugde. Volgens hom dui dit daarop dat die Goddelike Komedie realisme en selfuitbeelding in moderne fiksie ingehuldig het.[18]
{{cite book}}
: AS1-onderhoud: ander (link)