Die suidelike superkontinent Gondwana (oorspronklik Gondwanaland) het die meeste van die kratons (landmassas) van vandag se kontinente van die Suidelike Halfrond ingesluit, onder meer Antarktika, Suid-Amerika, Afrika, Madagaskar, Indië, Arabië, Australië-Nieu-Guinee en Nieu-Seeland. Die samepakking van Gondwana was ’n uitgerekte proses wat begin het met die opbreking van die superkontinent Pangea. Verskeie afsonderlike orogene gebeurtenisse het gelei tot die uiteindelike vereniging daarvan 550 miljoen tot 500 miljoen jaar gelede. Dit het die Brasiliano-, Oos-Afrika- en Kuungan-orogeen ingesluit. Die finale stadiums van Gondwana se vorming het met die opening van die Iapetus-oseaan tussen Laurentia en Wes-Gondwana oorvleuel. Dit is in dié tyd dat die Kambriese ontploffing plaasgevind het.
Hoewel Gondwana se middelpunt in die laat Paleosoïkum rofweg ooreengestem het met waar Antarktika vandag geleë is (by die verre suide van die aardbol), was die klimaat oor die algemeen matig. Indië bevat omtrent 3% van die wêreld se steenkoolneerslae en die meeste van die steenkool wat ontgin word, is afkomstig van die Gondwana-afsettingsvolgorde in die laat Paleosoïkum. In die Mesosoïkum was die gemiddelde wêreldtemperatuur heelwat hoër as vandag. Gondwana het toe miljoene jare lank gasheer gespeel vir ’n plante- en dierewêreld met ’n reuseverskeidenheid.
Die superkontinent het in die laat Jura (omtrent 160 miljoen jaar gelede) begin opbreek toe Afrika weggebreek en stadigaan noordwaarts begin dryf het. Die volgende groot blok wat sou wegbreek, was Indië, in die vroeë Krytperiode (omtrent 125 miljoen jaar gelede). Nieu-Seeland het omtrent 80 miljoen jaar gelede gevolg, slegs omtrent 15 miljoen jaar voor die Kryt-Paleogeen-uitwissing, toe omtrent 50% van alle spesies op die planeet uitgewis is, waaronder die nievlieënde dinosourusse.
Aan die begin van die era van die soogdiere het die kontinent Australië-Nieu-Guinee geleidelik begin afskei en noordwaarts begin beweeg (55 miljoen jaar gelede). Dit het om sy as begin draai en was sodoende lank aan die res van Gondwana verbind.
Omtrent 45 miljoen jaar gelede het die Indiese subkontinent met Asië gebots en die aardkors opgedwing om die Himalaja te vorm. Teen omtrent dieselfde tyd het die mees suidelike deel van Australië (die hedendaagse Tasmanië) uiteindelik weggebreek van wat nou Antarktika is. Dit het tot gevolg gehad dat seestrome vir die eerste keer tussen die twee kontinente gevloei het. Dit het weer ’n koeler en droër klimaat op die twee landmassas veroorsaak.
’n Baie belangriker wêreldklimaatgebeurtenis was die wegbreek van Suid-Amerika van Antarktika die een of ander tyd tydens die Oligoseen, moontlik 30 miljoen gelede. Met die opening van die Drakedeurgang was daar nou geen versperring wat die koue water van die Suidelike Oseaan uit die warmer tropiese waters gehou het nie. ’n Koue sirkumpolêre stroom het ontwikkel en Antarktika het geword wat dit vandag is: ’n yskoue kontinent wat ’n groot deel van die wêreld se varswater as ys bevat. Die seetemperatuur het met byna 10 grade gedaal en die wêreld het baie kouer geword.
Omtrent 15 miljoen jaar gelede het Nieu-Guinee teen Suid-Asië begin bots en weer eens hoë berge laat ontstaan. Selfs meer onlangs het Suid-Amerika aan Noord-Amerika geheg geraak deur die Panamalandengte. Dit het veroorsaak dat die sirkulasie van warm water versper is en dit het weer gelei tot die skepping van die Arktiese gebied.
Die kontinent het sy naam by die Oostenrykse geoloog Eduard Suess gekry en is vernoem na Gondwana in Indië, letterlik "Woud van die Gonde".