Groot-Zimbabwe* | |
---|---|
Unesco-wêrelderfenisterrein | |
Binne die ruïnes van Groot-Zimbabwe | |
Ligging van Groot-Zimbabwe in Zimbabwe | |
Koördinate: 20°16′S 30°56′O / 20.267°S 30.933°O | |
Lande | Zimbabwe |
Tipe | Kultuur |
Kriteria | i, iii, vi |
Verwysings | 364 |
Streek† | Afrika |
Inskripsiegeskiedenis | |
Inskripsie | 1986 (10de Sessie) |
* Naam soos dit in die Wêrelderfenislys verskyn. † Streek soos deur Unesco geklassifiseer. |
Groot-Zimbabwe (Engels: Great Zimbabwe, Shona: Masvingo eZimbabwe) is ’n ruïnestad, sowat 39 km suidoos vanaf Masvingo en in die gelyknamige provinsie in Zimbabwe geleë. Die nedersetting op die gelyknamige plato het as hoofstad van die Koninkryk Zimbabwe gedien, wat behalwe vir Zimbabwe ook groot dele van Mosambiek beheer het. Groot-Zimbabwe het tydens sy bloeitydperk vanaf die 11de tot middel van die 15de eeu ’n bevolking van sowat 18 000 gehad, is deur die monarge van Zimbabwe as koninklike paleis gebruik en was die politiese magsentrum. Die rykdom van die metropool was gebaseer op handel in beeste, goud en ander produkte. Getuienis van die geestelike sentrum is die Zimbabwe-voëls uit seepsteen. Die aanleg is die grootste voor-koloniale steenmakery in Afrika suid van die Sahara en een van die oudste.
Die stad was reeds verlate en vervalle toe Europeërs vir die eerste keer in die 16de eeu op die stad afgekom het. Verkeerdelik is dit vir ’n lang tyd as die tuiste van die koningin van Saba geïnterpreteer, maar die resultate van argeologiese navorsing weerlê hierdie tesis. Die oorsprongtyd word in die laat Ystertydperk gedateer, wat in die streek ooreenstem met die 11de eeu.
Die groot strukture is deur die Shona-voorvaders gebou. Die klipstad strek oor ’n area van 7,22 km². Onder die groot strukture se mees prominente kenmerke was die mure, waarvan sommige meer as vyf meter hoog was. Dit is sonder messelkalk gebou.
Die vroegste bekende geskrewe aantekening van die Groot-Zimbabwiese ruïnes was in 1531 deur Vicente Pegado, kaptein van die Portugese garnisoen Sofala, langs die kus van die hedendaagse Mosambiek. Hy het dit as Symbaoe opgeteken. Die eerste bevestigde besoek deur Europeërs was laat in die 19de eeu, met ondersoeke na die terrein wat in 1871 begin het. Later was studies van die monument kontroversieël in die argeologiese wêreld, met politieke druk wat deur die regering van Rhodesië op argeoloë geplaas is om te ontken dat dit deur inheemse Afrikane gebou is. Groot-Zimbabwe is intussen as nasionale monument deur die Zimbabwiese regering erken en die moderne onafhanklike staat is daarna genoem. Die woord “groot” onderskei die terrein van die honderde kleiner ruïnes wat oor die Zimbabwiese hoëveld versprei is. Daar is 200 sulke terreine in Suider-Afrika, soos Bumbuse in Zimbabwe en Manyikeni in Mosambiek, met monumentale mure sonder messelkalk gebou. Groot-Zimbabwe is die grootste van hierdie terreine.
Die Groot-Zimbabwe Nasionale Monument is in 1986 deur Unesco as wêrelderfenisgebied gelys.