Groot Aantrekker

Panoramiese voorstelling van die nabye ruimte – die ligging van die Groot Aantrekker word aangewys met die lang blou pyl regs onder.

Die Groot Aantrekker is ’n gebied in die heelal met ’n geweldige sterk swaartekragaantrekking en vorm blykbaar die middelpunt van die Laniakea-superswerm. Die superswerm bevat die Melkweg en sowat 100 000 ander sterrestelsels.

Die waargenome aantrekking dui op 'n konsentrasie van massa wat miljoene keer dié van die Melkweg is. Dit word egter verberg deur die Melkweg se galaktiese vlak, want dit lê agter die Sone van Ondeursigtigheid: By sigbare golflengtes is dit dus moeilik pm die Groot Aantrekker regstreeks waar te neem.[1]

Die aantrekking word onregstreeks waargeneem danksy sy uitwerking op die beweging van sterrestelsels en hulle verwante swerms oor 'n gebied van hondermiljoene ligjare breed. Dié sterrestelsels kan gesien word bo en onder die Sone van Ondeursigtigheid; almal het 'n rooiverskuiwing, wat beteken hulle beweeg weg van ons en mekaar af, maar die wisselings in hulle rooiverskuiwing is groot en gereeld genoeg om te onthul hulle word effens in die rigting van die Groot Aantrekker aangetrek.

Die sterrestelsels van die Virgo-superswerm (met onder meer die Melkweg) beweeg teen ’n snelheid van 600 km/s in die rigting van die Groot Aantrekker. Die Groot Aantrekker self beweeg in die rigting van die Shapley-superswerm.[1] In onlangse studies deur 'n span Suid-Afrikaanse astrofisici is 'n superswerm met die naam Vela-superswerm onthul in die Groot Aantrekker se teoretiese posisie.[2]

  1. 1,0 1,1 "What is the Great Attractor?". Universe Today (in Engels (VSA)). 14 Julie 2014. Besoek op 24 Junie 2018.
  2. Renée C. Kraan-Korteweg; Michelle E. Cluver; Maciej Bilicki; Thomas H. Jarrett; Matthew Colless; Ahmed Elagali; Hans Böhringer; Gayoung Chon (8 November 2016). "Discovery of a supercluster in the Zone of Avoidance in Vela". Monthly Notices of the Royal Astronomical Society: Letters. 466 (1): L29–L33. arXiv:1611.04615. Bibcode:2017MNRAS.466L..29K. doi:10.1093/MNRASL/SLW229. ISSN 1745-3933. Wikidata Q55892376.

Developed by StudentB