Groot Koraalrif* | |
---|---|
Unesco-wêrelderfenisterrein | |
Kaart van die Groot Koraalrif. | |
Ligging van die Groot Koraalrif in Australië | |
Koördinate: 18°17′10″S 147°42′00″O / 18.28611°S 147.70000°O | |
Lande | Australië |
Tipe | Natuur |
Kriteria | vii, viii, ix, x |
Verwysings | 154 |
Streek† | Oseanië |
Inskripsiegeskiedenis | |
Inskripsie | 1981 (5de Sessie) |
* Naam soos dit in die Wêrelderfenislys verskyn. † Streek soos deur Unesco geklassifiseer. |
Die Groot Koraalrif (Engels: Great Barrier Reef) is die wêreld se grootste koraalrifstelsel,[1][2] met meer as 2 900 indiwiduele riwwe[3] en 900 eilande wat vir meer as 2 600 km ver strek oor 'n gebied van ongeveer 344 400 km2. Die rif is in die Koraalsee geleë langs die kus van Queensland in noordoos-Australië.
Die Groot Koraalrif kan selfs vanuit die ruimte waargeneem word en is die wêreld se grootste struktuur wat deur lewende organismes gevorm is.[4] Die koraalrifstruktuur bestaan uit en word opgebou deur miljarde klein organismes wat as koraalpoliepe bekend staan.[5] Die Groot Koraalrif onderhou 'n groot verskeidenheid lewensvorme en is in 1981 as 'n Wêrelderfenisgebied verklaar.[1][2] CNN het die rif in hul lys van die sewe natuurwonders van die wêreld ingesluit.[6] 'n Groot deel van die rif word beskerm deur die Groot Koraalrifseepark, wat poog om die menslike impak soos oormatige visvang en toerisme te beperk. Ander omgewingsdrukke op die rif en sy ekostelsel sluit in die waterkwaliteit van aflope, klimaatsveranderinge wat met grootskaalse verbleiking van koraal gepaard gaan en die sikliese uitbrake van doringkroon seesterre.