Die Groot Rooi Vlek is 'n aanhoudende antisikloniese storm op die planeet Jupiter, 22° Suid van die ewenaar, wat ten minste al vir 176 jaar duur en moontlik al vir 340 jaar (of selfs meer) duur. Die storm is groot genoeg om met 'n teleskoop vanaf die aarde gesien te kan word. Dit is moontlik vir die eerste keer waargeneem deur Giovanni Domenico Cassini; hy het die storm reeds in ongeveer 1665 beskryf.
Die dramatiese aansig van Jupiter se Groot Rooi Vlek, soos gesien in die beeld hiernaas, is verkry deur Voyager 1 op 25 Februarie, 1979,[1] toe die ruimtetuig 9,2 miljoen km vanaf Jupiter was. Detail van 'n wolk so klein as 160 km in deursnit kan op die beeld gesien word. Die kleurvolle, golf-agtige patroon aan die linkerkant (wes) van die Rooi Vlek is 'n area van merkwaardige komplekse en veranderlike golfbeweging. Om 'n idee van Jupiter se skaal te gee: die wit ovaalstorm reg aan die onderkant van die Rooi Vlek het ongeveer dieselfde deursnit as die aarde. Die foto's van die vlek deur Voyager 1 was verreweg beter as enige ander wat vroeër beskikbaar was en het belangrike inligting beskikbaar gestel vir ondersoek oor die planeet en die storm.
Die ovaalstorm draai antikloksgewys, met 'n periode van ongeveer ses aardse dae[2] of 15 Jupiterse dae. (Een dag op Jupiter is ongeveer 10 ure lank.) Die Groot Rooi Vlek se dimensies is 24–40 000 km wes na oos en 12–14 000 km suid na noord. Dit is groot genoeg om twee of drie planete van die aarde se grootte te bevat. Die bopunte van die wolke van die storm is ongeveer 8 km bo die bopunte van die omliggende wolke.
Sulke storms is nie ongewoon in die woelige atmosfere van gasreuse nie. Jupiter het ook wit ovale en bruin ovale, wat klein, naamlose storms is. Wit ovale bestaan gewoonlik uit relatief koel wolke binne-in die boonste lae van die atmosfeer. Die bruin ovale is warmer en word aangetref binne-in die "normale wolklaag"; hierdie storms kan ure of selfs eeue duur.
Voor die Voyager-sendings was sterrekundiges baie onseker oor die Rooi Vlek se karakter. Baie sterrekundiges het oorspronklik geglo dat dit 'n vaste of vloeibare verskynsel op Jupiter se oppervlak was.