Halley se Komeet op 8 Maart 1986 | |
Ontdekking | |
---|---|
Ontdek deur: | prehistories (waarneming); Edmond Halley (erkenning vir periodieke terugkeer) |
Ontdekkingsdatum: | 1758 (eerste "voorspelde" perihelium) |
Wenteleienskappe | |
Epog: | 2449400.5 (17 Februarie 1994) |
Afelium: | 35,1 AE (9 Desember 2023)[1] |
Perihelium: | 0,586 AE laaste perihelium: 9 Februarie 1986 volgende perihelion: 28 Julie 2061[1] |
Lengteas: | 17,8 AE |
Eksentrisiteit: | 0,967 |
Wentelperiode: | 75,3 Juliaanse jaar[2][3] |
Baanhelling: | 162,3° |
Halley se Komeet, amptelik 1P/Halley,[2] is die bekendste kortperiodekomeet en is elke 75–76 jaar van die Aarde af sigbaar.[2] Dit is die enigste kortperiodekomeet wat duidelik met die blote oog van die Aarde af gesien kan word en dus die enigste komeet wat die gewone mens twee keer in sy lewe sal sien.[4] Ander komete wat met die blote oog gesien kan word, is dalk helderder en skouspelagtiger, maar kan net een keer in ’n duisend jaar hul verskyning maak.
Halley se kom en gaan in ons Sonnestelsel is reeds van minstens 240 v.C. deur sterrekundiges waargeneem en aangeteken. Duidelike rekords van die komeet se verskynings is in China, Babilonië en Middeleeuse Europa gemaak, maar dié skrywers het nie geweet dat dit dieselfde komeet is nie. Die Engelse sterrekundige Edmond Halley, na wie dit genoem is, was die eerste persoon wat (in 1705) vasgestel het die komeet keer periodiek terug na die binneste Sonnestelsel. Halley se Komeet het in 1986 die laaste keer hier sy verskyning gemaak en sal weer in middel 2061 van die Aarde af te sien wees.[5]
In 1986 was Halley die eerste komeet wat in detail deur ruimtetuie bestudeer is en dit was die eerste waarnemingsdata oor die struktuur van ’n komeetkern en die vorming van ’n koma (atmosfeer).[6][7] Hierdie waarnemings het ’n aantal bestaande voorspelling bevestig, onder meer die "vuil sneeubal"-teorie van Fred Whipple dat Halley moet bestaan uit ’n mengsel van vlugtige ys – soos water, koolstofdioksied en ammoniak – en stof. Die sending het ook die mens se begrip van Halley verbeter, soos dat sy oppervlak grootliks bestaan uit stowwerige, nievlugtige materiaal en dat net ’n klein deel daarvan ysagtig is.
{{cite book}}
: AS1-onderhoud: meer as een naam (link)