Hars is 'n taai, klewerig, plantaardig produk wat hoofsaaklik van naaldbome geoes word. Daar bestaan ook kunsmatige stowwe wat hars genoem word. Voorbeelde van sulke kunshars is: polyurethaan-hars en epoxy-hars.
Hars word soms met gom verwar. Die verskil is dat hars oplosbaar is in alkohol, gom daarteen is oplosbaar in water.
Van die produkte wat van hars vervaardig word sluit in:
Sommige natuurharse soos skellak en Oosterse lak word reeds baie lank gebruik en die terminologie (lak, vernis, hars, balsem, ensovoorts) dateer van oudsher. Dit word egter nie altyd konsekwent vir natuurharse gebruik nie, maar ook vir sommige kunsslowwe.
Hars is 'n produk wat deur sommige houtgewasse soos dennebome afgeskei word wanneer hulle beskadig word. Die hars is aanvanklik vloeibaar, maar verhard vinnig onder die invloed van lug. Daardeur beskerm die hars die boom teen die indringing van skimmel en dies meer.
By die verharding van hars vind talle chemiese omsettings soos polimerisasie en oksidasie plaas. Die stewige stof word gewoonlik hars of vernis genoem. Tegnies word 'n onderskeid gemaak tussen lakvernis (kortweg lak genoem) en chemiese vernis. Lak word hard vanweë die verdamping van ʼn oplosmiddel, terwyl chemiese vernis hard word vanweë chemiese omsetting. Kunsstowwe wat deur chemiese reaksies verhard raak, word dikwels ook kunshars genoem.
Onder natuurhars word drie soorte onderskei, naamlik:
- Wateroplosbare hars, soos gom, wat uit suikers opgebou is; lak word nie by die verwerking van gom verkry nie.
- Alkoholoplosbare hars, soos balsem, terpentyn en skellak.
- Olie-oplosbare hars, soos barnsteen, Oosterse lak, kolofonium en kopalhars; almal bestaan uit die sogenaamde koolwaterstowwe (C- en H-verbindings).