Heike Kamerlingh Onnes (Groningen, 21 September 1853[1] – Leiden, 21 Februarie 1926[2]) was 'n Nederlandse fisikus, wenner van die Nobelprys vir Fisika en professor aan die Universiteit van Leiden.[3] “Deur meeting na kennis” (Nederlands: "Door meten tot weten") was die slagspreuk van sy laboratorium. Hy het hierdie leuse in sy intreerede in 1882 bekendgestel. Hy het daarmee die belangrikheid aangedui wat hy aan eksperimentele werk geheg het om kennis te bekom. Sy navorsingsgebied was dié van gekondenseerde materie-fisika, waarin hy die verskynsel van supergeleiding in 1911 ontdek het.