Hibernasie

'n Skilpad wat hiberneer

Die oorgrote meerderheid van die ongewerwelde diere, koudbloedige werweldiere, asook baie soogdiere, raak onaktief of gaan in ʼn diep slaap gedurende ongunstige seisoene. Wanneer die prikkel om te slaap koue is, praat ons van hibernasie (winterslaap) en wanneer die prikkel droogte is, gaan die diere in estivasie (droogteslaap).

Omdat ons in Suid-Afrika nie sulke strawwe winters het soos in ander dele van die wêreld nie, het ons nie diere wat werklik hiberneer nie. Baie koudbloedige diere soos slange en akkedisse raak egter onaktief in die winter en dit is die rede waarom hulle dan nie gesien word nie. Ons kan egter heelwat diere aanheg by dié wat in 'n droogteslaap gaan, soos landslakke, sekere vissoorte, paddas en selfs soogdiere soos die goue mol en erdvark.

Skaarste aan voedsel is 'n groter gevaar vir warmbloedige diere as koue, en winterslaap is 'n manier waarop die natuur verseker dat diere wat nie in staat is om in die winter voedsel te kry nie, oorleef. Party soogdiere – die sogenaamde ware winterslapers – ondergaan egter groot veranderinge in hul liggaamstoestand tydens die periode van winterslaap. Die liggaamstemperatuur daal totdat dit byna dieselfde is as die van die omringende atmosfeer, die hart klop maar een keer elke twee of drie minute, die dier haal skaars asem en het baie min voedsel nodig.

Voorbeelde van soogdiere wat só slaap, is die vlermuis, krimpvarkies en die egte marmot. Visse, reptiele en amfibieë verminder ook al hul liggaamsfunksies tot 'n vlak waar hulle net aan die lewe bly gedurende hul winterslaap. Diere in hierdie toestand is in 'n toestand wat ook 'n skyndood genoem kan word.


Developed by StudentB