Huismossie | |
---|---|
Mannetjie | |
Wyfie | |
Wetenskaplike klassifikasie | |
Domein: | |
Koninkryk: | |
Filum: | |
Subfilum: | |
Klas: | |
Orde: | |
Familie: | |
Genus: | |
Spesie: | P. domesticus
|
Binomiale naam | |
Passer domesticus (Linnaeus, 1758)
| |
██ Natuurlike verspreding██ Ingevoer |
Die huismossie (Passer domesticus) is 'n gelokaliseerde, algemene standvoël in en om menslike wonings. Hulle kan in klein swerms weg van geboue af voorkom en maak een-een of in los groepe nes; gewoonlik in 'n gat in 'n gebou. Die voël is 14 cm groot en weeg 22 - 30 gram. Die voël is oorspronklik uit Europa en Indië ingevoer en kom nou oor feitlik die hele Suid-Afrika voor. In Engels staan die voël bekend as die House sparrow.
Ondanks sy onopvallende voorkoms is die huismossie (Passer domesticus) - in Suid-Afrika ook soms die dakmossie genoem - een van die wêreld se bekendste voëls. Hy het hom vanuit die beboste steppe van Voor-Asië en die tropiese gebiede van Afrika via die Nyldal oor die oostelike deel van die Middellandse Seebekken versprei, waar die uitgestrekte graanlande ʼn ryk bron van voedsel gevorm het. Naas graan eet die huismossie ook vrugte, jong blare en insekte.
Die menslike nedersettings in sy nuwe woongebied het die huismossie nie net van voedsel voorsien nie, maar ook van nesbougeleenthede. Dus het hy hom saam met die mens oor feitlik die hele Europa versprei, waardeur 'n aantal subspesies ontstaan het: In Spanje en Griekeland kom die Spaanse mossie (Passer domesticus hispaniolensis), wat 'n sjokoladebruin kop het, voor, terwyl die Italiaanse mossie (Passer domesticus italiae) in Italië aangetref word.
Die gewone huismossie (Passer domesticus domesticus) is hoofsaaklik bruin met 'n kastaiingbruin nek en 'n swart keel, terwyl die punt van sy kop grys is. Die wyfie is minder opvallend. Haar rug en vlerke is dofbruin en haar bors en pens vuilwit.
Huismossies kom ook in die VSA, Australië, Nieu-Seeland en Suid-Afrika voor omdat die mens hulle daarheen ingevoer het. New Yorkers het huismossies in die 19e eeu ingevoer as herinnering aan hul land van herkoms (Engeland). Die voëls het goed in die stad se parke geaard en by gebrek aan natuurlike vyande gou 'n plaag geword wat talle inheemse voëls verdring het. In Suid-Amerika en Nieu-Seeland is gehoop om 'n ruspeplaag te beheer deur huismossies in te voer.
Die projek het misluk, en die mossies het gou vermeerder. Aan die begin van die 20ste eeu is die huismossie ook uit Brittanje na Suid-Afrika ingevoer en die voëltjie het sedertdien na feitlik elke distrik in Suider-Afrika versprei. Huismossies is baie sosiale diere wat in groot groepe saamleef. Of hulle nou 'n sandbad neem of kos soek, dit gebeur gemeenskaplik en gaan met baie getjirp gepaard.
Wanneer gevaar dreig, laat hulle 'n deurdringende, skril kreet hoor en die hele trop vlieg dan op na 'n veilige punt waarvandaan daar luid in die rigting van die indringer getjirp word. Wanneer 'n roofvoël hulle uit die lug bedreig, is die waarskuwingsteken 'n sagte, kort geluid waarop die ander meteens stil word en agter blare probeer skuil. Huismossies begin teen die einde van die winter nessies bou.
Neste word meestal in 'n gat in 'n muur of onder dakplate gebou, terwyl 'n verlate swaelnes soms ook gebruik word. Sodra 'n mannetjie 'n geskikte plek gevind het, soek hy vir hom 'n maat en 'n paartjie bly dikwels vir die res van hul lewens bymekaar. Wanneer 'n mannetjie pronk, trippel hy met hangende vlerke al tjirpend om die wyfie. Soms pronk meer as een mannetjie om dieselfde wyfie en dit maak haar baie opgewonde.
Paring vind 'n geruime tyd na die balts plaas en dit duur 2 weke om die 4 tot 6 eiers uit te broei. Die kuikens word met insekte gevoer en hulle is na 2 tot 3 weke gereed om die nes te verlaat. Mossies broei 3 tot 4 keer per jaar, vandaar hul vinnige verspreiding oor 'n nuwe gebied.