Die begrip identiteit word in die psigiatrie en sielkunde gebruik om 'n gevoel van persoonlike eenheid uit te druk. In hierdie verband is dit die eerste keer deur die Duitser Karl Jaspers gebruik, maar dit was veral die Amerikaanse psigiater Erik H. Erikson wat daartoe bygedra het dat die begrip identiteit noukeurig omskryf is en bruikbaar geword het. Erikson het 'n identiteitsteorie ontwikkel wat by die hoofpunte van Sigmund Freud se psigoanalitiese teorie aansluit.
Erikson het egter meer aandag as Freud bestee aan die ontwikkeling van die ego, wat hy in noue verband met identiteitsvorming gebring het. Die proses van identiteitsvorming gedurende adolessensie kan onder bepaalde omstandighede bedreig word. Hierdie identiteitskrisis is nie slegs negatief nie, want dit bied ook die moontlikheid om vroeëre, minder geslaagde oplossings vir ontwikkelingsprobleme weer in oënskou te neem. Die begrip identiteit (wat letterlik beteken om in alle opsigte gelyk, identies te wees) word in verskeie wetenskappe gebruik, maar het soms binne dieselfde wetenskap uiteenlopende betekenisse. In die psigiatrie en sielkunde verwys die begrip identiteit na 'n gevoel van persoonlike eenheid, na die oortuiging om onveranderd en wesenlik dieselfde te wees en te bly ondanks alle moontlike uiterlike veranderings.
Voor die begrip identiteit deur die toedoen van die Duitse filosoof-psigiater Karl Jaspers (1883-1969) 'n rol in die psigiatrie begin speel het, is dit lank reeds in die wysbegeerte (filosofie) gebruik. In die hedendaagse psigiatrie en sielkunde speel die begrip identiteit 'n belangrike rol, danksy die Amerikaanse psigoanalitikus Erik H. Erikson (geb. 1902). Hy het van Freud se drieledige model van die menslike persoonlikheid gebruik gemaak: die id verteenwoordig daarin die (biologies gegewe) impulsiewe begeertes, die ego is die bewuste deel van die persoonlikheid, en die superego kom grootliks ooreen met wat in die omgangstaal die gewete genoem word. In teenstelling met Freud se volgelinge, wat veral in die id belang gestel het, was Erikson meer in die ego geïnteresseerd en het hy besondere aandag aan identiteit en identiteitsvorming bestee.