Kenteken van die Indiese nasionale krieketspan | |||||||||||||||||
Bynaam | Men in Blue, Team India | ||||||||||||||||
---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|
Konferensie | Raad vir Beheer van Krieket in Indië (BCCI) | ||||||||||||||||
Personeel | |||||||||||||||||
Toetskaptein | Rohit Sharma | ||||||||||||||||
EDI-kaptein | KL Rahul | ||||||||||||||||
T20I-kaptein | Rohit Sharma | ||||||||||||||||
Afrigter | Rahul Dravid | ||||||||||||||||
Geskiedenis | |||||||||||||||||
Toetsstatus verkry | 1932 | ||||||||||||||||
Internasionale Krieketraad | |||||||||||||||||
IKR-status | Volle lid (1926) | ||||||||||||||||
IKR-streek | AKR (Asië) | ||||||||||||||||
| |||||||||||||||||
Toetse | |||||||||||||||||
Eerste toets | t Engeland op Lord’s, Londen, 25–28 Junie 1932 | ||||||||||||||||
Laaste toets | t Engeland op HPCA-stadion, Dharamshala; 7–9 Maart 2024 | ||||||||||||||||
| |||||||||||||||||
Wêreldtoets- kampioenskappe | 2/2 (eerste in 2019–2021) | ||||||||||||||||
Beste uitslag | Naaswenner (in 2019–2021 en 2021–2023) | ||||||||||||||||
Internasionale eendagwedstryde | |||||||||||||||||
Eerste EDI | t Engeland op Headingley, Leeds; 13 Julie 1974 | ||||||||||||||||
Laaste EDI | t Suid-Afrika op Bolandpark, Paarl; 21 Desember 2023 | ||||||||||||||||
| |||||||||||||||||
Krieketwêreldbeker-verskynings | 13/13 (eerste in 1975) | ||||||||||||||||
Beste uitslag | Kampioen (in 1983 en 2011) | ||||||||||||||||
Kampioenetrofee-verskynings | 8/8 (eerste in 1998) | ||||||||||||||||
Beste uitslag | Kampioen (in 2002 en 2013) | ||||||||||||||||
Twintig20s | |||||||||||||||||
Eerste T20I | t Suid-Afrika op Wanderersstadion, Johannesburg; 1 Desember 2006 | ||||||||||||||||
Laaste T20I | t Suid-Afrika op Kensington-ovaal, Bridgetown; 29 Junie 2024 | ||||||||||||||||
| |||||||||||||||||
T20I-wêreldbeker-verskynings | 9/9 (eerste in 2007) | ||||||||||||||||
Beste uitslag | Kampioen (in 2007 en 2024) | ||||||||||||||||
|
Die Indiese nasionale krieketspan (Engels: India national cricket team; Hindi: भारतीय क्रिकेट टीम), met die byname Men in Blue[10] en Team India,[11] is die nasionale krieketspan wat Indië in toets- en kitskrieket verteenwoordig. Dit word beheer en geadministreer deur die Raad vir Beheer van Krieket in Indië (BCCI, van Engels: Board of Control for Cricket in India) en is ’n volle lid van die Internasionale Krieketraad (IKR) met toets-, EDI- en T20I-status. Indië is tans (Junie 2024) tweede op die IKR-toetsranglys, eerste op die eendagranglys en eerste op die Twintig20-wêreldranglys.[12][13][14]
Hoewel krieket reeds in die 18de eeu deur Europese handelsmatrose na Brits-Indië gebring en die eerste krieketklub in Indië al in 1792 in Kolkata gestig is, het Indië se nasionale krieketspan eers hul eerste toets op 25 Junie 1932 op Lord’s in Engeland gespeel.[15] Hulle word die sesde span om toetskrieketstatus te ontvang. In sy eerste vyftig jaar van internasionale krieket was Indië een van die swakste spanne in internasionale krieket, hulle het slegs 35 van die 196 toetse wat hulle gedurende dié tydperk gespeel het gewen.[16] Indië moes vanaf 1932 tot 1952, 20 jaar, vir sy eerste toetsoorwinning wag. Die span het in die 1970’s sterker geword, met opkomende spelers soos die kolwers Sunil Gavaskar en Gundappa Viswanath, die veelsydige Kapil Dev en die Indiese “draaikwartet” Erapalli Prasanna, Srinivas Venkataraghavan, Bhagwat Chandrasekhar en Bishen Singh Bedi.
Indië is tradisioneel tuis baie sterker as oorsee, maar sedert die begin van die 21ste eeu kon die span sy oorsese prestasies verbeter, veral in die korter vorme van krieket; hulle het al toetse in Australië, Engeland en Suid-Afrika gewen. Indië het die krieketwêreldbekertoernooi tot dusver twee keer gewen – in 1983 onder kaptein Kapil Dev in Engeland en in 2011 onder kaptein MS Dhoni tuis. Nadat hulle die 2011-toernooi gewen het, was Indië slegs die derde span, ná Wes-Indië en Australië, wat dié trofee twee keer ingepalm het,[17] en die eerste span wat dit tuis kon vermag. Hulle het ook die T20I-wêreldbekertoernooi (in 2007) en die Kampioenetrofee (in 2013) onder kapteinskap van MS Dhoni ingepalm. Daarbenewens het hulle die Kampioenetrofee 2002 met Sri Lanka gedeel en onder kapteinskap van Rohit Sharma die T20I-wêreldbeker 2024 gewen.
Onder die leierskap van Dhoni het die Indiese span as een van die gedugste spanne in internasionale krieket na vore getree.[18] Die Indiese krieketspan ding in kragmetings mee teen ander toetsspelende lande, veral met Pakistan, die politieke aartsvyand van Indië. Die afgelope tyd het tweestryde met lande soos Australië, Engeland en Suid-Afrika ook bekendheid verwerf. Agt voormalige Indiese spelers is in die Internasionale Krieketraad se Heldesaal opgeneem.