Indo-China of Agter-Indië (Frans: L'Indochine) verwys na die vastelandgedeelte van Suidoos-Asië. Die term "Indo-China" is vir die eerste keer deur die Deens-Franse geograaf Conrad Malte-Brun (ook Malthe Konrad Bruun, 1775–1826) gebruik in sy werk van 1810, "Précis de la Géographie Universelle", wat in Parys gepubliseer is.[1] Die benaming "Indo-China" verwys na die kulturele invloed wat Indië en China onderskeidelik op die vastelandgedeelte van Suidoos-Asië gehad het. In Malte-Brun se gebruik van die term word die moderne state Laos, Kambodja, Thailand, Viëtnam, Mianmar en die noordelike deel van Maleisië (die Maleisiese Skiereiland), die suide van China, dele van Bangladesj en Singapoer ingesluit.[2] Vandag verwys die term gewoonlik na die voormalige Frans-Indo-China (Frans: Indochine française), wat slegs Kambodja, Laos en Viëtnam ingesluit het.[1] Daar is ook soms na Mianmar onder Britse koloniale beheer as Brits-Indo-China (Engels: British Indochina) verwys.[3]