Inenting word gebruik om mense en diere teen infeksiesiektes te beskerm. Daar is twee maniere waarop die beskerming bewerkstellig kan word. By aktiewe immunisasie word 'n entstof gebruik om die liggaam se immuunrespons te stimuleer. So ʼn entstof bestaan gewoonlik uit die siektewekkende organisme in ʼn geïnaktiveerde of verswakte vorm sodat dit nie langer die siekte kan veroorsaak nie. Die teenliggame of sellulêre immuunrespons wat deur die entstof bewerkstellig word, is daartoe in staat om die liggaam teen die virulente vorm van die organisme te beskerm.
Passiewe immunisasie daarteenoor maak gebruik van teenliggame wat elders geproduseer is. Hierdie behandeling word toegepas wanneer direkte immunisering ondoeltreffend is. Inenting is een van die groot suksesse van die voorkomende geneeskunde. Siektes soos pokke, wat eeue lank dood en ellende in die wêreld veroorsaak het, is vandag as gevolg van goed georganiseerde inentingsprogramme heeltemal uitgeroei.
Baie ander siektes, soos polio en tuberkulose, word vandag ook deur inenting doeltreffend onder beheer gehou. Voorts speel inenting ʼn uiters belangrike ekonomiese rol in dieregesondheid. Inenting word in die eerste plek gebruik om individue te beskerm teen infeksiesiektes veroorsaak deur mikroörganismes, soos bakterieë en virusse. Dit is ook van belang om sekere gevaarlike virusse permanent uit te roei deur die oordrag van die virus na sy natuurlike gasheer te verhinder. Daar is vandag 'n groot aantal infeksiesiektes waarteen inenting gebruik kan word. Hierdie siektes sluit in witseerkeel (difterie), kinkhoes, tetanus, polio, pokke, tuberkulose, masels, Duitse masels (rubella), hondsdolheid, griep, geelkoors, tifus en cholera. Die twee maniere waarop inenting beskerming bied teen al hierdie siektes, is deur passiewe en aktiewe immunisasie.