Inferno (Italiaans vir "hel") is die eerste deel van die Italiaanse skrywer Dante Alighieri se 14de-eeuse epiese gedig Goddelike Komedie. Dit word gevolg deur Purgatorio en Paradiso. Die Inferno beskryf Dante se reis deur die hel, begelei deur die Romeinse digter Vergilius. In die gedig word die hel uitgebeeld in nege konsentriese sirkels van foltering wat in die aarde geleë is; dit is die "ryk ... van diegene wat spirituele waardes verwerp het deur hulle oor te gee aan dierlike aptyte of geweld, of wat hulle menslike intellek bederf het met bedrog of kwaadwilligheid teenoor hulle medemens".[1] As 'n allegorie verteenwoordig die Goddelike Komedie die reis van die siel na God, met die Inferno wat die erkenning en verwerping van sonde beskryf.[2] Die woord "komedie" beteken hier 'n gedig met 'n gelukkige einde, en moenie verstaan word in die moderne sin van 'n komedie nie.