Inlynsessilinder

'n BMW M20B25 enjin met die silinderkop verwyder, toon die ses suiers in die ses silinders
Vuurorde van 'n inlynsessilinderenjin

Die inlynsessilinderenjin of reguitsesenjin is 'n tipe binnebrandenjin met al ses silinders in 'n reguit lyn gemonteer, of in 'n gelyke vlak bo/langs die krukas. Die enkelbanksilinders kan gerig word in óf 'n vertikale óf 'n skuinsvlak met al die suiers wat 'n gemeenskaplike krukas aandryf. Waar dit skuins teen 'n hoek geplaas is, word dit soms 'n skuinsses genoem. In 'n spesifikasie, grafiek of wanneer 'n afkorting gebruik word, word 'n inlynsessilinder enjin gelys óf as I6 of L6.

Soos by gewone passasiersmotors is dit die gladde loopeienskappe van die reguitsesenjin wat dit ook wenslik maak vir industriële gebruik. Die reguitses is 'n eenvoudige enjin wat in beide primêre en sekondêre balans verkeer. Dit beteken dit kan tot 'n groot mate opgeskaal word, sonder om oormatige vibrasie op te doen. Die meeste van die enjinkomponente en -toebehore kan langs beide kante monteer word, eerder as bo of onder die silinderbanke, wat beteken dat toeganklikheid en onderhoud makliker is as op 'n V-enjin in 'n vragmotor of industriële opset. Verder is 'n reguitsesenjin meganies eenvoudiger as 'n V6- of V8-enjin aangesien dit net een silinderkop, en die bonokas net die helfte soveel nokaste het.


Developed by StudentB