Irannese tale | |
---|---|
Geografiese verspreiding: |
Wes-Asië, Sentraal-Asië |
Genetiese klassifikasie: |
Indo-Europees Indo-Irannees Irannese tale |
Onderafdelings: | |
Lande waar 'n Irannese taal gepraat word |
Die Irannese tale (soms ook Irano-Ariese tale genoem) is 'n subfamilie van die Indo-Irannese tale binne die Indo-Europese taalfamilie, saam met die Indo-Ariese tale en die Nuristani-tale, en word veral deur Irannese volke gepraat.[1] Daar is altesaam sowat vyftig Nieu-Irannese tale met sowat 150 miljoen moedertaalsprekers, terwyl tussen 30 en 50 miljoen sprekers 'n Irannese taal as tweede of derde taal praat. Die grootste tale (volgens moedertaalsprekers) is: Persies (57 miljoen), Pasjtoe (ca. 50 miljoen), Koerdies (30 miljoen), Dari (ca. 12,5 miljoen), Tadjiks (ca. 8 miljoen), Beloetsji (5 miljoen), Luri (4–5 miljoen), Zazaki (2–4 miljoen), Gilaki (2,4 miljoen) en Mazanderani (2,4 miljoen). Van die ander tale sluit in Avesties (uitgestorwe) en Osseties (ca. 620 000).
Hulle is inheems aan die Irannese hoogland tussen die Eufraat-Tigris in die weste, die Kaukasus in die noordweste, die Kaspiese See en Sentraal-Asië in die noorde, die Indus in die ooste en die Persiese Golf in die suide met lande soos Iran, Afghanistan, Pakistan en Tadjikistan. Die verspreiding van beide die Irannese tale en Irannese volke het met die uitbreiding van die Persiese Ryk gepaard gegaan.