Islam (Arabies: الإسلام, al-ʾIslām, [alʔisˈlaːm], ) is een van die drie groot monoteïstiese godsdienste, saam met Christendom en Judaïsme. Volgelinge van Islam staan bekend as Moslems1.
Die godsdiens steun op die beweerde verligting van die profeet Mohammed, wat sy "goddelike openbarings" in die Koran neergeskryf het, en die Soenna, die mondelinge oorlewering. Albei staan onder die invloed van heidens-Arabiese, Joodse, Christelike en gnostiese tradisies en leerstellings.
Nes Christendom en Judaïsme is Islam 'n Abrahamitiese geloof en dus glo Moslems dat Adam, Noag, Abraham, Moses en Jesus heilige profete van Allah is.[1] Moslems glo ook dat die mens in die Laaste Oordeel geoordeel sal word op grond van sy handelinge en dienooreenkomstig na die paradys of die hel gestuur sal word. Vir hulle is daar geen ander god as Allah nie, en Mohammed is sy laaste profeet.[2] Allah beteken letterlik "die God" in Arabies.
Die land met die grootste Moslembevolking is Indonesië.[3] Die grootste Moslembevolkings is meestal in Afrika en Asië geleë. Moslems kan hoofsaaklik in twee godsdienstige denominasies verdeel word – Soenniete (75–90%) en Sjiiete (10–20%). Met sowat 1,8 miljard volgelinge wat soveel as 24% van die wêreldbevolking bevat, is Islam dus die tweede grootste godsdiens. Islam is ook die vinnigste groeiende godsdiens ter wêreld.[4][5][6]