In numeriese analise is 'n iteratiewe metode 'n metode om 'n probleem op te los (soos die vind van die wortels van 'n vergelyking) deur herhaaldelik opeenvolgende benaderings te vind vir die oplossing deur vanaf 'n aanvanklike raaiskoot af te skop. Hierdie benadering staan in kontras met direkte metodes (kyk bv die kwadratiese formule) wat poog om die probleem op te los deur 'n vasgestelde reeks bewerkinge wat, as die afrondingsfout buite rekening gelaat word, 'n eksakte oplossing oplewer (soos die oplos van 'n stel linieêre vergelykings Ax = b deur Gauss eliminasie). Iteratiewe metodes is gewoonlik die enigste keuse vir nie-lineêre vergelykings. Iteratiewe metodes kan egter ook nuttig wees vir lineêre probleme wat 'n groot aantal veranderlikes bevat, waar direkte metodes baie moeilik sal wees.