Jan Lion Cachet | |
Prof. Jan Lion Cachet
| |
Naam | Jan Lion Cachet |
---|---|
Geboorte | 29 November 1838 Amsterdam, Nederland |
Sterfte | 21 September 1912 (op 73) Potchefstroom, Suid-Afrika |
Kerkverband | Gereformeerd |
Gemeente(s) | Rustenburg Burgersdorp Philipstown Steynsburg |
Prof. Jan Lion Cachet (29 November 1838, Amsterdam – 21 September 1912, Potchefstroom)[1] was ’n predikant en professor in die Gereformeerde Kerk en ’n vroeë Afrikaanse skrywer en digter. Cachet is gebore uit Joods-Portugese ouers as jonger broer van Frans Lion Cachet.[2] In 1849 het die gesin oorgegaan tot die Christendom.[3] In 1861 emigreer Cachet na Suid-Afrika as onderwyser. Hy het ’n hom as predikant bekwaam en later ’n professor geword aan die Teologiese Skool op Burgersdorp, waarvan prof. Dirk Postma die rektor was. In 1905 het hy saam met die teologiese skool na Potchefstroom verhuis en ’n paar jaar daarna is hy oorlede.
Dr. B. Spoelstra beskryf Cachet in die Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek as 'n ernstige, stigtelike en boeiende verkondiger van die evangelie; hy is spesiaal deur die staatspresident, pres. Paul Kruger, ook lidmaat van die Gereformeerde Kerk, geroep om op 27 Augustus 1899 in Pretoria 'n biduur met die oog op die dreigende oorlog te lei. As professor was hy die gemoedelike en toeganklike wat met sy wye Skrifkennis, liefde vir die geskiedenis en praktiese lewenskuns predikante vir diens aan kerk en volk gevorm het, pleks van teoloë. Hy was trots om Jood, Nederlander en Afrikaner te wees, 'n veelsydige en belese mens, 'n skerp en simpatieke waarnemer met kritiese sin, 'n stille leier op kerklike, politieke, opvoedkundige en kulturele gebied, gelykmatig en beheers van temperament, soms geneig tot swaarmoedigheid, maar getemper deur geestigheid en vriendelikheid. In die omgang was hy nederig, opvallend eenvoudig geklee, 'n roepingsbewuste kerkman en volksman.
In Februarie 1909 ontvang hy van koningin Wilhelmina van die Nederlande die offisierskruis in die Orde van Oranje-Nassau. Hy word veral onthou vir sy gedig, "Di Afrikaanse Taal", wat in 1896 in Ons Klyntji verskyn, en later in sy prosawerk Sewe duiwels en wat hulle gedoen het gepubliseer is.[4]