Japannees 日本語 / にほんご Nihongo | ||
---|---|---|
Uitspraak: | [nihõŋɡo]/[nihõŋŋo] | |
Gepraat in: | Japan Palau Verenigde State Brasilië Peru | |
Gebied: | Oos-Asië | |
Totale sprekers: | 128 miljoen (moedertaal) een miljoen (tweede of derde taal)[1] | |
Rang: | 9 | |
Taalfamilie: | Altaïes (omstrede) Japannees Japannees | |
Skrifstelsel: | Japannese skryfstelsel | |
Amptelike status | ||
Amptelike taal in: | Japan Palau (Angaur) | |
Gereguleer deur: | Regering van Japan | |
Taalkodes | ||
ISO 639-1: | ja
| |
ISO 639-2: | jpn
| |
ISO 639-3: | jpn
| |
Nota: Hierdie bladsy kan IFA fonetiese simbole in Unicode bevat. |
Japannees (日本語 / にほんご ?), [nihõŋɡo] of [nihõŋŋo]) is die amptelike taal van Japan en word deur sowat 128 miljoen mense in Japan as eerste taal gepraat en deur meer as een miljoen as tweede taal. Dit word ook deur Japannese immigrantegemeenskappe in verskeie dele van die wêreld gepraat. Die totale aantal Japannese sprekers word op 130 miljoen geskat wat dit die negende grootste taal ter wêreld maak.[2][3] Japannees vorm saam met die Ryukyu-tale die Japannese tale.
Japannees is 'n agglutinatiewe taal[4] en word gekenmerk deur 'n ingewikkelde stelsel van beleefdheidsvorme, genaamd keigo, wat die hiërargiese struktuur van die Japannese samelewing reflekteer, met werkwoordvorme en besondere woordeskat wat afhang van die relatiewe status van die spreker, luisteraar en die persoon wat in die gesprek genoem word.[3] Die klankinventaris van Japannees is betreklik klein en dit het 'n leksikaalbepaalde toonaksentstelsel. Kennis oor vroeë Japannees is hoofsaaklik gegrond op die taal in die 8ste eeu, toe drie belangrike werke in Oud-Japannees saamgestel is; maar kleiner stukke ouer materiaal, hoofsaaklik inskripsies, bestaan wel. Klassifikasie van die Japannese taal en van die Japannese tale met betrekking tot ander tale is tans onseker.[5] Die vroegste getuienis van Japannees is in 'n Chinese dokument uit 252 n.C.
Die Japannese taal word met 'n kombinasie van drie verskillende tipes skrif wat die Japannese skryfstelsel opmaak geskryf: Chinese karakters genaamd kanji (漢字 かんじ), en twee lettergrepige skrifte wat bestaan uit aangepaste Chinese karakters, hiragana (平仮名 ひらがな) en katakana (片仮名 カタカナ). Die Latynse alfabet, romaji, word ook baie keer in moderne Japannees gebruik, veral vir maatskappyname en kentekens, advertensies, en wanneer Japannees op rekenaars gebruik word. Westerse styl Arabiese syfers word oor die algemeen vir getalle gebruik, maar tradisionele Chinees-Japannese syfers is ook algemeen.[4]
Japannese woordeskat is sterk beïnvloed deur leenwoorde uit ander tale. 'n Reuse aantal woorde is uit Chinees geleen, of is geskep op grond van Chinese modelle, oor 'n tydperk van ten minste 1 500 jaar. Sedert die laat 19de eeu het Japannees 'n aansienlike aantal woorde uit Indo-Europese tale, veral Engels oorgeneem. As gevolg van die spesiale handelsverhouding tussen Japan en eers Portugal in die 16de eeu, en daarna hoofsaaklik Nederland in die 17de eeu, het Portugees en Nederlands ook heelwat invloed uitgeoefen. Die Duitse taalkundige Johann Joseph Hoffmann het 'n stelselmatige ooreenkoms tussen Japannees, Mongools en Mantsjoe opgemerk.[6]